Skole in Wellington is onlangs geteiken deur vandale.

Chantélle Hartebeest

Die sinnelose afbreek van en vandalisme by skole het onlangs weer in Wellington die kop uitgesteek.

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) het al op verskeie geleenthede sy ongelukkigheid uitgespreek oor die aanval op skole se infrastrukuur, wat op die ou einde beteken dat dit ‘n indirekte aanval op leerders se onderrig is.

Bronagh Hammond, ‘n woordvoerder vir die WKOD, het bevestig dat twee skole in dié dorp geteiken is – Hillcrest Primêr en Wellington Primêr.

Hammond vertel dat ‘n personeellid van Hillcrest Primêr Maandag (14 April) gesien het iemand het by die skool se kombuis ingebreek.

“Die volgende is gesteel: Vier kombuisbakke, twee groot lepels, twee messe en twee kartonne melk. Skade is aan die veiligheidshek en kombuisdeur aangerig. Die geskatte koste van die skade is R3 000. Die skool het met herstelwerk begin.”

By Wellington Primêr, verduidelik Hammond, was daar ‘n poging om by die skool se rekenaarkamer in te breek.

“Die gaasdraad aan die deur is beskadig. Dit is intussen herstel. Gelukkig is geen verdere skade aangerig nie.”

Daar is sprake van Bergrivier Sekondêr wat ook geteiken is, maar Hammond kon dit nie voor druktyd bevestig nie.

You need to be Logged In to leave a comment.