Een van die Paarl se hoofpaaie, die Bergrivier-boulevard, is oorstroom.Foto: Liezl Davids


Die een oomblik was dit ’n gewone somersdag, en binne ’n oogwink was die Paarl, Wellington en ander omliggende dorpe Maandagmiddag vasgevang in ’n hewige donderstorm, wat tot wydverspreide oorstromings gelei het.

Hoewel niemand dood is nie, is baie mense steeds erg getraumatiseer deur die vreesaanjaende donderweer, die baie reën wat uitgesak het en die skade wat deur die vloedwater aangerig is.

Inwoners van die Paarl en Wellington het in ongeloof oor die baie reënval in minder as ’n halfuur verskeie foto’s en video’s op sosiale media gedeel. Heelwat mense se wonings is ook in die proses oorstroom.

Ralph Adams, wat in Adrianstraat, Groenheuwel, in Paarl-Oos, woon, sê: “Ons het nie geweet die weer sal so erg wees nie. Die wind en reën het alles verniel.” Adams sê die water het ook hul rusbanke, televisieskerm, kombuiskaste, hangkaste, klere en selfs beddens natgemaak.

Gerald Esau, die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, het Maandagaand gesê die munisipaliteit se rampbestuur-, paaie- en stormwaterspanne is hard besig om aandag te skenk aan gebiede wat reg oor die munisipale gebied oorstroom is. Sowat 250 gevalle van oorstroming- en stormskade is by die munisipaliteit aangemeld. Volgens Esau moes verskeie paaie weens oorstromings gesluit word.

“Die paaie waar oorstromings skade aan die padoppervlakte aangerig het en wat herstelwerk vereis, sluit in die hoek van Jan van Riebeek/Abbatoir (Paarl); die hoek van Gert Thomas/Annie Benjamin (Paarl); Simfonielaan (Paarl); en die hoek van Hoof/Versailles (Wellington).”

In die Paarl is verskeie paaie oorstroom, maar gelukkig nie beskadig nie. Dit sluit Van der Stelstraat; Bergrivier-boulevard; Jan van Riebeeckrylaan; R45 (Noorder-Paarl); Simfonielaan; Bergrivierstraat; Drommedarisstraat; Kaplanstraat; Annie Benjaminstraat; Kolbestraat; Grebestraat; Lantanastraat; Magnoliastraat, en Jan Steynstraat in. In Wellington sluit dit Gansstraat; Knoopstraat; Bloekomstraat; Cavernellisstraat; Impalastraat; Klaasenstraat; Vinkstraat; Patrysstraat; en Appelkoosstraat in.

Mediclinic Paarl en die Paarl-hospitaal is nie gespaar nie. Die storm het by al twee hospitale skade aangerig – gelukkig is geen pasiënt of personeellid beseer nie.

Dr. Gerrit de Villiers, kliniese hoof van Mediclinic Suider-Afrika, het gesê: “Mediclinic kan bevestig Mediclinic Paarl het ’n klein aantal pasiënte as gevolg van die buitengewone reënval in die Wynlandstreek na ander dele van die hospitaal weens skade aan die waakeenheid verskuif. Drie pasiënte is na ’n ander Mediclinic-hospitaal oorgeplaas om te verseker dat hulle steeds die nodige sorg ontvang.

“Ons bedank die verpleegspanne en al die nood- en ander ondersteuningsdienste vir hul ondersteuning gedurende hierdie tyd.”

Leensie Lötter, ’n woordvoerder van die Paarl-hospitaal, sê die dienstevierkant aan die agterkant van die hospitaal is oorstroom en water het by die nabygeleë endoskopie-eenheid en teekamer ingestroom. Sy sê dié gedeelte van die hospitaal het geen skade opgedoen nie, maar plafonne in die teater en Saal 6A is erg beskadig.

“Gevolglik kan twee vertrekke in Saal 6A nie nou gebruik word nie en die teater se plafonne word ook tans herstel. Groot vordering is reeds hiermee gemaak en die gebruik van die teater behoort binnekort weer moontlik te wees. Die teater sal nadat al die herstelwerk voltooi is, goed skoongemaak en gesteriliseer word om te verseker dit is weer geskik vir gebruik. Die skoonmaakproses neem egter tyd, wat die gebruik van die teater kan vertraag.

“Verder is ’n paar kleiner lekplekke op ander vloere aangemeld, en dit word deur die instandhoudingspan herstel.

“Die uitwerking van die waterskade op dienslewering is gelukkig minimaal met slegs een pasiënt in Saal 6A wat verskuif moes word. Teatergevalle is geherskeduleer en kan langer wagtye tot gevolg hê.”

Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het teen druktyd gesê hulle het nog geen verslae van skole uit die Paarl en Wellington rakende vloedskade ontvang nie en wag nog op terugvoer.

Vir druiwe- en ander vrugteboere in die vallei was hierdie uiterse omstandighede baie ongunstig vir hul wingerde en vrugteboorde.

Jong vormende druiwe asook sagtevrugteboorde is erg deur haelskade geknou.

Boere sê baie opvolgwerk sal nou in wingerde gedoen moet word om te keer dat siektes weens die nat, bedompige omstandighede ontstaan.

You need to be Logged In to leave a comment.