Die organiseerder van die geleentheid, Maria Manuel (agter), staan by die wenner in die ouderdomsgroep 30, Khanyisa Kondlo, Mej. Agri 2024. Regs voor is Crystal Jacobs, eerste prinses, en links is Angee Gabriel, tweede prinses.Foto: Kallie Smit


Die gemeenskapsaal in Saron was Saterdag 23 Maart volgepak met inwoners en plaaswerkers wat hul medewerkers gaan ondersteun het.

’n Groep van 34 plaaswerkers, wat tien omliggende plase verteenwoordig, het aan die Mej. & Mev. Agri 2024-skoonheidskompetisie deelgeneem.

Die kompetisie is verlede jaar die eerste keer aangebied nadat Maria Manuel besluit het om saam met die Ou Apostoliese kerk ’n geleentheid aan te bied waar plaaswerkers die einde van die parstyd kon vier, die harde werk afskud en die tyd geniet.

Die kompetisie was só ’n groot sukses dat dit nou ’n jaarlikse instelling geword het waarna plaaswerkers en die gemeenskap met groot afwagting uitsien.

Hierdie jaar is ’n derde afdeling (die Divas) by die kompetisie ingesluit, waarin sewe deelnemers die LGBTQ-gemeenskap verteenwoordig het.

Daar was geen tekort aan geesdrif nie toe die deelnemers onder luide applous op die verhoog in hul gemaklike drag en deftige aandrokke gepronk het om die eerste plek te verower.

Die wenner van verlede jaar se kompetisie, Candice Pieters, het die kroon in die gunsteling-afdeling (ouderdomsgroep 30) aan die nuwe Mej. Agri 2024, Khanyisa Kondlo, oorhandig, wat die plaas Dasbosch verteenwoordig het. Crystal Jacobs (Wesland) was die eerste prinses en Angee Gabriel (Dasbosch) die tweede prinses. Kondlo het ook aan verlede jaar se kompetisie deelgeneem, maar kon nie ’n plek in die top-drie behaal nie.

Kondlo het egter nie moed opgegee nie en haar vasbeslotenheid om die kroon in die top-afdeling te verower, het vrugte afgewerp toe sy in haar swart eenstuk-leerpak en later in ’n silwer aandrok wat onder die ligte geskitter het, haar ondersteuners op hul voete gehad het. Dit was van die begin af duidelik dat sy een van die gunstelinge was om die titel te wen.

In die ouderdomsgroep 40 is Karen Christiaans (Lushof) as Mej. Agri 2024 gekroon. Die eerste prinses was Lee-Ann Fransman (Dasbosch) en die tweede prinses was Cornelia Batist (Dasbosch).

Die Diva-kroon het gegaan aan Casandra Louw met Paris Pedro tweede en Fillenicia Titus die tweede prinses – almal van die plaas Greenwillows.

Die plaas Dasbosch het met die meeste wenners gepronk met vier deelnemers wat gekroon is en die plaas se naam hoog gehou het. Greenwillows was in die tweede plek met drie wenners en Lushof en Wesland het elk een wenner opgelewer.

Manuel, wat die organisering van die geleentheid behartig, sê: “Daar is so min vermaak vir ons mense en die kompetisie lok mense van alle ouderdomme, wat dit terdeë geniet wanneer hulle dit bywoon.

“Die insluiting van die Divas hierdie jaar by die geleentheid het dit nog meer suksesvol gemaak en almal weet mos dat hulle vir groot vermaak en opwinding op die verhoog sorg. Ons hoop om volgende jaar se kompetisie nog groter en lekkerder te maak.”

You need to be Logged In to leave a comment.