’n Vragmotor wat brood aflewer is Vrydagoggend (3 Augustus) in Mbekweni, Paarl, geplunder en aan die brand gesteek.


Die Paarl is nie die geweld gespaar wat die afgelope week as gevolg van die provinsiale taxi-staking kop uitgesteek het nie. Maar was dit so erg soos wat sosialemedia-ketting- boodskappe wou laat blyk?

Sedert die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad (Santaco) verlede Donderdag (3 Augustus) ’n provinsiale taxi-staking in die Wes-Kaap aangekondig het, het grootskaalse chaos en onrus in dele van die provinsie uitgebreek. Die staking spruit uit taxi-operateurs se ongelukkigheid met die Stad Kaapstad se ordonnansies en die skut van taxi’s. Die staking was veronderstel om net tot Woensdag (9 Augustus) te duur.

Gerugte van stakers wat glo Maandag (7 Augustus) wou toesak op die Paarlse middedorp het menige onderneming laat besluit om proaktief te wees en hul deure vroegtydig te sluit en personeel huis toe te stuur. Verskeie boodskappe het ook daarop gedui dat daar ’n skietery by ’n winkelsentrum in die Paarl was.

Kapt. Louise du Plessis, woordvoerder van die Paarl-polisie, het die gerugte van die hand gewys en beklemtoon dat daar verskeie vals nuuswenke op sosiale media versprei is.

“Daar het ook geen skietvoorval in die Paarl se sentrale sakedistrik plaasgevind nie. Ondernemings het uit eie keuse gesluit om enige skade aan eiendom, as ’n proaktiewe maatreël, in die Lady Grey-gebied te voorkom nadat ’n groep by ’n plaaslike winkelsentrum gevind is. Dit word aangeraai dat enige sosialemedia-inligting met omsigtigheid bekyk word.”

geen voorvalle

Paniek en histerie is ook Maandag gesaai onder ouers toe boodskappe die ronde begin doen dat stakers skole in die Paarl en Wellington teiken en dat hulle beplan om die skole af te brand. Baie ouers het hulle gehaas na skole om tot hul kinders se “redding” te kom, net om uit te vind dat dit als vals nuus is.

“Daar was geen voorvalle van skole wat afgebrand of geteiken is deur ’n groep wat in die Drakenstein-gebied aangemeld is nie,” het Du Plessis dit duidelik gemaak.

David Maynier, die Wes-Kaapse minister van onderwys, het in ’n persverklaring bevestig dat geen skool in die provinsie aangeval en aan die brand gesteek is nie.

“Ons doen ’n beroep op die publiek om nie vals nuus te deel nie. Om by te dra tot die onsekerheid is onverantwoordelik en stel ons leerders in gevaar,” sê hy.

ouers vreesbevange

Paarl Post het ook met verskeie skole in die Drakenstein-gebied gesels wat die gerugte ook as vals nuus bestempel het. Allison Naidoo, hoof van Dalweide Primêr, sê sy verstaan op sosiale media het die mense gesê “ons skool brand”.

“Dit is glad nie waar nie. Mense wil net sensasie en pandemonium skep. Al wat gebeur het, is die nuwe winkelsentrum [in Groenheuwel] het toegemaak ná dreigemente,” sê Naidoo.

“Die ouers het natuurlik vreesbevange geraak en hulle het skool toe gekom en gevra of hulle hul kinders kan kry, en dit kan ons mos nou nie weier nie.”

In Wellington is ’n bakkie van ’n sekerheidsmaatskappy Maandagoggend aan die brand gesteek. Dit is onduidelik of die voorval enige verband hou met die taxi-staking.

In Mbekweni is heelwat voorvalle van geweld aangemeld, het AO Nceba Vanqa, woordvoerder van die Mbekweni-polisie, bevestig.

“Ondernemings in albei sentrums, die een in Mbekweni en die nuwe een in Groenheuwel, moes sluit omdat hulle [die stakers] die sentrums wil binnedring.”

vragmotor geplunder

Verlede Vrydag (4 Augustus) is ’n vragmotor wat brood aflewer se produkte in die gebied geplunder. Daar is verskeie video’s wat ook die ronde doen van hoe inwoners die vragmotor plunder en aan die brand steek. Wat nog meer verpletterend is oor die situasie, is dat inwoners voortgegaan het om die brandende vragmotor te plunder terwyl daar gesien kan word hoe die plaaslike brandweer probeer om die vlamme in bedwang te bring. Leerders in hul skoolklere kan ook duidelik gesien word waar hulle deel is van die plundery. Verskeie voertuie is ook beskadig as gevolg van klipgooiery in Mbekweni, het Vanqa gesê.

In tussen het Conrad Poole, Drakenstein se uitvoerende burgemeester, inwoners gemaan om kalm te bly.

Hy sê die polisie het Maandag aan die munisipaliteit bevestig dat die taxigeweld in Drakenstein tans beperk is tot die Mbekweni-gebied, Blignautstraat in Wellington en Groenheuwel in Paarl-Oos. Alle paaie was ook te alle tye oop vir verkeer.

Poole het ook ’n beroep op inwoners gedoen om hulself te weerhou van geweld, vernietiging van eiendom en voertuie, kapings en enige misdadige aktiwiteite. Hy meen hierdie soort gedrag stel mense se lewe in gevaar.

Reagen Allen, die Wes-Kaapse minister vir polisietoesig en gemeenskapsveiligheid, pleit ook by inwoners om nie vals nuus en inligting te versprei wat nie geverifieer is nie.

“Stuur asseblief die inligting aan die relevante gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) of buurtwagte sodat die inligting na die polisie gestuur kan word wat dit dan kan verifieer.”

Santaco het intussen gevra dat alle lede hulself op ’n vreedsame en wettige wyse moet gedra.

You need to be Logged In to leave a comment.