Drie van die twintig deelnemers aan kykNET se nuwe koswerklikheids­reeks Kokkedoor Vuur & Vlam is van Wellington en die Paarl. Dié reeks, wat in die gewilde Overbergse stranddorp Struisbaai verfilm is, begin op Donderdag 27 Julie om 20:00 op kykNET.

Kykers het in 2013 vir die eerste keer aan die Kokkedoor-tafel kom sit en oor die jare het nog familielede van die reeks (Koekedoor, Kokkedoortjie en Koekedoortjie) geurryke vermaak verskaf.

Vir Kokkedoor Vuur & Vlam gaan deelnemers alles in die vlamme, op die kole, binne-in die as of op die rooster moet voorberei, terwyl die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha op soek is na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier.

’n Onthoubraaier het nie formele sjef-opleiding en professionele ondervinding nie, maar hul hart klop warm vir tradisionele kos. Hulle word gekies vir hul vernuf as ’n huiskok en hul kennis van onthoukos.

Kinkelbraaiers word gekies vir hul kwalifikasies en/of hul ondervinding in ’n erkende restaurant of professionele kombuis.

Talle kos- of produkspesialiste, asook ’n bekende persoonlikheid of twee, maak verskynings in die reeks, terwyl die bekroonde kosskrywer en EAT OUT-beoordelaar Herman Lensing en kosfoendi Errieda du Toit deel is van Kokkedoor Vuur & Vlam se vervaardigingspan.

Die drie deelnemers van Wellington en die Paarl is:

. Bertus Fourie (49), Wellington (Onthoubraaier).

Bertus is ’n bobaas-braaier en sy vuur-vaardighede het vir hom ’n plek in Ultimate Braaimaster se eindronde losgeslaan. Hy is ’n wynmaker wat ook gourmet braai-spyseniering doen vir alles van intieme en spoggerige verjaarsdagpartytjies tot groot korporatiewe geleenthede met 900 gaste.

. Braam Potgieter (25), Paarl (Kinkelbraaier).

Braam het as kind sy tande geslyp vir ’n lekker steak in sy pa se Spur op Ladysmith in KwaZulu-Natal. Ná sy studies het hy werk-ervaring opgedoen by sommige van die Kaap se voorste restaurante soos Le Coin en Grande Roche. Hy het in 2021 die tweede plek behaal in One and Only se Young Star Chef of the Year-kompetisie en werk tans by GÄTE-restaurant buite Stellenbosch.

. Cindy Menigo (38), Wellington (Kinkelbraaier).

Cindy waag haar tweede kans nadat sy uitgeval het in Kokkedoor 2. Sy kombineer haar gevorderde diploma in koskuns en City & Guilds-diploma in fyngebak met haar sjef-ervaring as ’n lektor.

You need to be Logged In to leave a comment.