Die Suid-Afrikaanse direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoek (Valke) het gister (12 Februarie) op ’n onwettige en ten volle operasionele steroïede-laboratorium in die Paarl toegesak waarna ’n 27-jarige man in hegtenis geneem is.
Die laboratorium is geleë in die Zandwyk-besigheidspark in Paarl-Suid op die R101 of te wel die Ou Paarl-pad, in ’n perseel met die naam Protein Lab.
Dié besigheid verkoop aanvullings in poeier formaat, onder andere proteïen, kreatien, en kollageen wat hoofsaaklik gebruik word om fiksheidsvermoë en stamina te bevorder.
Dít is volgens Protein Lab se webtuiste, wat ook maaltydaanvullings adverteer.
Mark Duncan, eienaar van Protein Lab, het gesê hy kan nie op hierdie stadium kommentaar lewer nie, maar het wel bygevoeg dat hy onskuldig is.
Die Valke se Suid-Afrikaanse Buro vir Verdowingsmiddelsafdwinging (SANEB), gebaseer in Bellville, het met die bystand van die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte Reguleringsowerheid (SAHPRA) op die laboratorium toegeslaan, volgens ’n persverklaring deur die Suid-Afrikaanse polisiediens.
“Dit spruit uit ’n ondersoek wat in Januarie 2023 van stapel gestuur is, toe die Valke inligting ontvang het oor steroïede wat per koerier vanaf Franschhoek gestuur word en aan plaaslike ontvangers versprei is.”
Die steroïede en medisyne, waaronder Proviron, wat gebruik word om testosteroonvlakke onder mans te verhoog, is op beslag gelê en gestuur na ’n laboratorium vir toetse waarna die uitslae positief was.
“’n Soek- en beslagleggingsoperasie is gemagtig en uitgevoer waartydens druk-, sorteer- en etiketteringsmasjiene, skale en oonde op beslag gelê is,” volgens die persverklaring
Die waarde van die steroïede en medisyne moet nog bepaal word.
Die 27-jarige man wat in hegtenis geneem is sal eersdaags in die Paarl-landdroshof verskyn sodra hy aangekla is.
’n Tweede verdagte is geïdentifiseer, maar nog nie in hegtenis geneem nie.
“Meer inhegtenisnemings word binnekort verwag,” het die verklaring bygevoeg.
Met Paarl Post se besoek aan die perseel in die Zandwyk-besigheidspark was die Valke steeds besig met hul ondersoek.
Kapt. Louise du Plessis, woordvoerder van die Paarl-polisie, asook kol. Frederick Rossouw, woordvoerder van die Fanschhoek-polisie het aangedui dat hul geen verdere inligting oor die ondersoek het nie.
Wat is steroïede?
Die term steroïede verwys dikwels na medisyne uit die groep glukokortikoïede wat natuurlike hormone in die liggaam is, maar wat ook kunsmatig vervaardig kan word vir mediese gebruik, of in die geval van die artikel, om fiksheidsvermoë en stamina te bevorder — die gebruik hiervoor is egter onwettig in Suid-Afrika.
“Medisyne wat steroïede bevat, is al meer as 50 jaar beskikbaar. Aanvanklik was min bekend oor hul newe-effekte en korrekte gebruik. Gevolglik is hulle dikwels verkeerd aangewend – óf in te hoë dosisse óf vir te lank,” volgens die nasionale instituut vir gesondheid.
Steroïede, vir mediese doeleindes word gebruik in salf om velkondisies soos psoriase, en ekseme te behandel.
Dit kom ook voor in inspuitings en in pil-formaat om kondisies soos artritis te behandel.
Steroïedspuite is ook algemeen vir die behandeling van asma of sinus.
Hiérdie medisyne kan egter misbruik en onwettig aangewend word wanneer liggaamsbouers, gimnasium-entoesiaste, atlete en ander individue wat ’n sterker en meer gespierde voorkoms wil hê, dit koop.