Die besluit van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) om twee vakkeuses by die Bergrivier Sekondêr in Wellington te verwyder, het talle mense erg onthuts.
Die gevoel is dat die besluit sommige leerders, wat graag wiskunde en rekeningkunde as vakkeuses wil neem, se keuses sal beperk wanneer dit by hul tersiêre studies kom.
Paarl Post het by die departement navraag gedoen oor die besluit en of dit enigsins verband hou met die besnoeiing van onderwysposte vir 2025 in die Wes-Kaap. Dié besnoeiing is as gevolg van die nasionale regering se besluit om die Wes-Kaapse begroting vir onderwys met miljarde rande te verminder.
Bronagh Hammond, ’n woordvoerder vir die WKOD, sê die departement se besluit het niks te doen met die besnoeiing van die onderwysposte nie.
“Die skool het die afgelope drie jaar ’n toename ervaar in die aantal leerders wat aanvanklik wiskunde en rekeningkunde as vakke in gr. 10 gekies het, maar wat gekies het om vakke in gr. 11 en gr. 12 te verander. Daar was byvoorbeeld vanjaar net drie kandidate vir wiskunde- nasionale senior sertifikaat (NSS) en 10 in rekeningkunde. Die laat vakveranderings en min inskrywings in hierdie vakke het die skoolbestuur genoop om die moeilike besluit te neem om nie hierdie vakke in gr. 10 in 2025 aan te bied nie.”
Volgens Hammond sal die besluit egter nie leerders van Bergrivier keer om die vakke te neem nie, indien hulle dit graag wil doen.
“Die skool help leerders wat wiskunde en rekeningkunde as vakke wil neem deur naburige skole wat daardie vakke aanbied, namens hulle te nader. Die skool poog om potensiële wiskunde- en wetenskap-talent te identifiseer en hierdie leerders te lei na geleenthede om hierdie talente te verken.”
Riedwaan Ahmed, die provinsiale uitvoerende hoof van Naptosa in die Wes-Kaap, het ook sy insae rakende die besluit gelewer.
Naptosa is ’n onderwysunie in Suid-Afrika. Volgens Ahmed weet die unie nie van die WKOD se besluit om die twee vakkeuses te onttrek nie.
“Die onttrekking van wiskunde en rekeningkunde as vakke sal gewis nie in belang van die onderwys of die leerders wat verdere loopbaanstudies wil volg, wees nie.
“Naptosa sal na hierdie saak kyk en daarop let dat ons bewus is van die bykomende finansiering wat via die provinsiale tesourie aan die WKOD beskikbaar gestel is om die tekort aan opvoeders die hoof te bied. Ons verwelkom enige bykomende finansiering wat tot gehalte-onderwys kan bydra. Ons is bewus daarvan dat die WKOD nog sy begrotingsproses moet finaliseer en aanpas om die tekort vir die huidige boekjaar in te sluit.”