Dis byna vakansietyd en die perfekte tyd om leeg te lê en in te haal op lekker leesstof.
Paarl Post bied ’n kort blik op verskeie Afrikaanse treffer-romans wat tans te koop is. Boonop kan elke boek deur ’n leser van Paarl Post gewen word.
Om ’n kans te staan om te wen, WhatsApp jou naam en die naam van die boek wat jy graag sou wou lees, na 066 484 3728 teen Woensdag 29 November. Wenners sal self hul boek by Paarl Post se kantoor moet kan kom afhaal.
Deon Meyer se jongste Bennie Griesel-roman, Leo, is skaars ’n paar weke op winkelrakke en is reeds ’n topverkoper in Suid-Afrika. En weer eens gaan Meyer-liefhebbers bankvas in spanning sit om te lees wat die uiteinde van die verhaal is.
“Benna, dis crazy. Ons werk vir ’n no-name, no-prestige outfit, ons moet lieg soos criminals, en ons jaag spoke van twaalf jaar terug. Ek sê jou, dis die end times dié.”
’n Student se dood in die berg by Stellenbosch lyk verdag – ’n oud-recce vermoor as ’n boodskap. Aan iemand: Hou julle bekke. ’n Korrupte politikus se lyk in die sandkuil van Arabella se sestiende putjie; met ’n onontsyferbare kode daarby. ’n Mooi veldgids, gewerf as ’n heuningwip vir die grootste dollar-rooftog in die land se geskiedenis. En staatskapers wat elkeen van die ondersoeke saboteer.
Jy’t ’n koel kop nodig om dit alles te ontrafel en die enorme druk te kan hanteer. Jy moet kalm en gefokus bly en nugter wees.
Maar Bennie Griessel se kop is nie koel nie. Hy’s bedruk. Bekommerd. Bevrees. Want op 12 Junie moet hy trou, ’n datum wat soos ’n sneltrein op hom afkom. En hy’s glad nie reg vir dié ding nie. Dis ’n resep vir ’n ramp.
Griessel en Cupido is terug. Hier kom moeilikheid, sowaar GROOT moeilikheid.
Joha van Dyk se jongste boek, Kan nie dood, is die derde in die Branderjaer-sage en hou lesers ook op die punt van hul stoel. Dis die Branderjaers se matriekjaar en Ben “Kannie” Palmer was van plan om sy kop laag te hou. Maar dinge loop van die begin vir hom skeef.
’n Ou bendeleier is terug in Breekwater en Ben en sy suster, Kalla, word gekonfronteer met ’n legacy waarvoor hulle nooit gevra het nie – en ’n oorlog wat die gemeenskap in chaos dompel. Kalla kon nog nooit die verlede afskud nie. Die nag wat sy in Niemandsland aangeval is, het haar lewe verander. Nou het sy dalk ’n kans om dinge reg te stel om seker te maak daar is nie nog ’n slagoffer nie, al moet sy alles om haar afbrand.
Marie Lotz, die skrywer van die krimi’s Roofdier en Polsslag, het nog ’n aksiebelaaide roman geskryf – Maalkolk.
’n Onskuldige man word in sy motorhuis doodgeskiet. ’n Jong vrou se lyk hang aan ’n boomtak diep in die Magaliesberg.
Speurder-kaptein Alek Strauss en sy span by die Fiskale Spesiale Ondersoekeenheid is verbysterd. Iewers is ’n moordenaar wat speletjies speel: die Woestynroos-misdaadtonele word nageboots, met subtiele leidrade waarvan net ’n handvol mense weet.
Intussen is adjudant-offisier Anele Vilakazi op die spoor van ’n boogskutter aan die Wildekus. ’n Matriekseun kom af op sy tienersuster se lyk wat op ’n afgeleë strand met ’n wapen in die nek geskiet is.
Sal Strauss en Vilakazi die skuldiges betyds kan stuit?
Geen lekkerlees-lus is geblus sonder ’n roman uit die pen van Irna van Zyl nie. Irna is ’n meester-spanningsromanskrywer en Kwaaiwater is haar vyfde roman.
Die grootste uitdaging van haar loopbaan wag op speur-adjudant Storm van der Merwe.
Die kusdorp Hermanus hou die eerste keer ’n skrywersfees. ’n Deel van Storm se verpligtinge is om by die gemeenskapsaal kywie te hou voor die laaste Covid-regulasies uiteindelik opgehef word.
Maar toe daag Isa du Bois, die sterskrywer van die dorp, nie op vir haar sessie nie. Haar lyk word dieselfde oggend nog in Kwaaiwater se Mosselrivier gevind.
Die dorpsmense gis ná hierdie gebeure oor moontlikhede en 24 uur later kom ’n visserman op nóg ’n lyk af – weer ’n vrou, dié keer jonk en swart. En dan is daar ’n derde slagoffer, ’n belangrike kulturele rolspeler in die dorp.
Drie dae; drie vroue. Hoekom drie, hoekom dié drie? Van der Merwe sal haar storie moet ken.
Die volle omvang van Etienne van Heerden se talent word in hierdie werk, Gebeente, briljant uitgestal: sy ongebreidelde verbeelding; woorde wat lees asof hy sy rekenaar in heuning gemarineer het; ’n skerp analise van die samelewing in geheel; ’n fyn sin vir humor en ironie; ’n meesterverteller en ’n grondige begrip van sy medium.
Dit is byna vier dekades ná Toorberg. Met ’n onverwagte trein kom die landdros Imker Goedeman (wat vier dekades gelede as jongman die afarm-magistraat van Toorberg, Abraham van der Ligt, in die gange van Bellville se landdroshof raakgeloop het) aan op Gebeente, ’n klein dorpie op die Vergete Grootpad noord van Sutherland.
Die omgewing is geruk deur ’n opspraakwekkende plaasmoord, maar ’n veel gekompliseerder saak moet ondersoek word: die diefstal van die Melkweg . . . Ons is hier in die buurt van onwaarskynlikhede en eindelik word die ganse regstelsel uitgedaag.
Historie, mite en allegorie word sjarmant verweef in dié meesleurende en fassinerende roman – hier voer Van Heerden sy kenmerkende magiese realisme die verste nog in sy hele oeuvre.
Uit die pen van die skrywer en fliekresensent Leon van Nierop kom nog ’n verhaal vol kinkels in Duiwelsroos.
’n Orkaan waai die private speurder Beer Henning tot op die spogroosplaas Roosbaron.
Hier ontdek hy pikswart rose wat ’n dodelike geheim versteek: die duiwelsroos!
Hy ontmoet die eksentrieke eienares van die plaas, Mathilda van Eck. Haar sewentienjarige seun, Marnus, is presies ’n jaar gelede in verdagte omstandighede dood – verdag, maar nooit uitgeklaar nie.
Van Eck huur Beer om uit te vind wat werklik met haar seun gebeur het.
Beer vermoed Marnus is vermoor en dat die motief sommer reg onder sy neus is. Sou hy sy instink kan vertrou, skuil daar ’n moordenaar op die plaas Roosbaron.
Beer sal egter al sy diplomatiese vernuf moet gebruik om nie op enige tone te trap en self in die moeilikheid en die moordenaar se visier te kom nie.


