Graad 11-leerders van die Hoërskool Labori het op 31 Augustus weer aan die jaarlikse Provinsiale Vaardigheidskompetisie van die Wes-Kaapse onderwysdepartement by die Bellville Tegniese Hoërskool deelgeneem. Hier stel leerders hul vaardighede in die onderskeie vakke met ’n tegniese element ten toon deur ’n verskeidenheid praktiese take in ’n gegewe tydgleuf af te handel. Labori se leerders het puik gevaar. Die skool is baie trots om die volgende wenners aan te kondig: Janco Strauss het die derde plek verwerf vir die elektriese afdeling (kragstelsels). Dirk Human het ’n derde plek in die meganiese afdeling (pas-en- draai) behaal en Lee-Ann Ruddy het ’n eerste plek in toerisme behaal. Dit was die eerste keer dat leerders in dié vak aan die kompetisie deelgeneem het. Baie geluk ook aan al die ander leerders wat deelgeneem het en die opvoeders wat die vakke aanbied en deelgeneem het. Op die foto is Lee-Ann Ruddy en Dirk Human. Janco Strauss is afwesig.