Uber-bestuurders wat in die Paarl werk is van mening dat hulle doelbewus deur die Drakenstein-munisipaliteit se verkeersbeamptes geteiken word.
Dit kom nadat talle Uber-voertuie geskut is en duisende rande betaal moes word sodat die voertuie teruggekry kan word. Uber-bestuurders is nou skrikkerig om hul dienste voort te sit in die dorp, en is selfs te bang om hul identiteit bekend te maak uit vrees dat hulle geviktimiseer gaan word.
“Dit gaan eintlik oor die permitte. Ons doen aansoek, en selfs my aansoek is al ses weke gelede ingegee, maar ek het nog niks ontvang nie,” sê ’n 56-jarige man wat ’n Uber-drywer is.
“Selfs ’n ou wat ek persoonlik ken en voorheen mee saam gewerk het, het nou die dag vir my gesê hy het vir sy permit meer as twee jaar gelede betaal en hy wag nog steeds. Nou impound hulle ons en in die Paarl doen hulle dit erg. Ek ry nie meer in die Paarl nie. Ek is mal oor die Paarl, maar ek kan nie daai kans waag nie. Ek is reeds een keer geskut in die Paarl.
Nog ’n plaaslike Uber-bestuurder het sy bewys van betaling gewys aan Paarl Post toe hy verlede jaar in Mei aansoek gedoen en betaal het vir sy permit. Tot vandag het hy nog geen terugvoering, of sy permit, ontvang nie.
“In ’n neutedop, hulle impound ons vir ’n permit wat hulle nie vir ons gee nie. Toe vind hulle uit as hulle ’n Uber impound, dan is dit ’n R9 500 boete as dit jou eerste oortreding is. Daarna raak dit R15 000 en die derde keer R25 000. Wat hulle ook nie moes uitvind nie, is dat Uber ons boetes elke twee weke betaal. So, met ander woorde, Uber raak nou die cash cow en word gemelk. Hulle impound ons links en regs vir ’n permit wat hulle [lank neem om vir ons uit te reik].”
Die betroubare bron sê die verkeersbeamptes teiken die Uber-voertuie omdat dit maklik uitgeken kan word. “Meeste van die Ubers in die Paarl het ’n CAA registrasie. Die rede hiervoor is dat die bestuurders ’n rent to own-kontrak met ’n internasionale maatskappy het wat in Kaapstad gevestig is. Daar is ook ’n plakker met die maatskappy se naam op die voorruit geplak.”
Paarl Post het die kwessie met die Drakenstein-munisipaliteit geopper waarop Eda Barnard, uitvoerende direkteur van openbare veiligheid, geantwoord het.
“’n Drieledige vergadering is op 24 Februarie gehou tussen die Suid-Afrikaanse Polisiediens, ’n afvaardiging van Uber-bestuurders en Drakenstein-munisipaliteit, wat deur ons verkeershoof verteenwoordig is. Onder meer die klagte oor permitte en verkeersbeamptes se optrede was deel van die bespreking.
“Die verteenwoordigers van die Uber-bestuurders het erken dat hulle onwettig sake doen en dienste verskaf en wou ’n vergunning hê om met hierdie onwettige diens voort te gaan. Nodeloos om te sê, geen taxi wat passasiers teen vergoeding vervoer, mag dienste sonder ’n wettige permit verskaf nie en dit is so aan hulle uitgestippel.”
Volgens Barnard reik die munisipaliteit nie permitte uit nie, maar wel die bedryfslisensieraad.
“Taxi’s wat sonder ’n wettige permit diens verrig, of wat dienste strydig met hul permitvoorwaardes verskaf, word ’n boete van R2 500 opgelê. Sodanige voertuie word dan ook geskut en is onderhewig aan ’n skutfooi wat wissel, afhangend van die hoeveelste oortreding dit is, tussen R2 500 en R15 000. Die aftrek en skut van taxi’s word daagliks gedoen as deel van verkeersbeamptes se operasionele ontplooiing.”