Drakenstein-munisipaliteit hou vol dat hy nie die wettige eienaar is van die grond aan die voorkant by die Hugenote-treinstasie nie, hoewel Prasa ’n ander deuntjie sing.
Haweloses woon al vir ’n paar maande tydelik op dié grond en word gereeld van dié perseel verwyder. Op dié perseel is daar ook ’n taxi-staanplek. Pendelaars het in die verlede hul motors op die grond geparkeer wanneer hulle daagliks per trein werk toe gependel het.
Toe ’n uitsettingsoperasie op 15 Maart op die einste grond uitgevoer is om haweloses te verwyder, het Gerald Esau gesê Drakenstein-munisipaliteit was saam met die polisie, die Wes-Kaapse departement van maatskaplike dienste en Prasa deel van die operasie. Esau is die uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste in Drakenstein.
Met die uitsettingsoperasie in Maart het Esau toe by navraag gesê die kwessie van hierdie haweloses val nie binne die amptelike mandaat van die munisipaliteit nie. Hy het bygevoeg die munisipaliteit probeer om die probleem van haweloses “binne die munisipale gebied” hok te slaan deur betrokke te wees by gereelde operasies wat glo ook private grondeienaars insluit.
In Esau se terugvoering het hy verder gesê: “Wat hierdie spesifieke aangeleentheid by die Hugenote-stasie betref, woon die haweloses op private grond wat aan Prasa behoort. Tydens die operasie het ons die mense verwyder van die perseel in samewerking met die grondeienaars.”
Lede van die gemeenskap het Paarl Post genader en volgehou die munisipaliteit is oneerlik.
Die inwoners voel dit is ’n klap in hul gesig om te lieg en dat die taak van die koerant as die “stem van Drakenstein” ondermyn word.
Zinobulali Mihi, ’n woordvoerder van Prasa in die streek Wes-Kaap, het op swart en wit bevestig Drakenstein-munisipaliteit is die wettige eienaar van die grond voor Hugenote-treinstasie en die munisipaliteit het ook die taxi-staanplek, wat haweloses tans gebruik as skuiling, opgerig het.
Mihi kon egter nie bevestig in watter jaar die munisipaliteit die taxi-staanplek gebou het nie.
Verdere navrae is hieroor aan die munisipaliteit gerig waarop Esau geantwoord het.
“Drakenstein-munisipaliteit het nie gelieg of die publiek mislei nie, was nie oneerlik nie, en probeer nie om enige verantwoordelikheid te ontduik nie. Die grond onder bespreking behoort inderdaad aan Prasa. Hy is die grondeienaar en die grond is sy verantwoordelikheid.
“Drakenstein-munisipaliteit voer van tyd tot tyd gesamentlike operasies uit met Prasa, die polisie asook ons wetstoepassers en die afdeling vir vullisverwydering.
“Die munisipaliteit speel ’n fasiliteringsrol in samewerking met die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling om ’n oornagskuiling vir haweloses daar te stel.” . Drakenstein Municipality maintains that they are not the legal landowners of the land in front of the Huguenot train station, although Prasa sings a different tune.