Die Drakenstein-munisipaliteit is in ’n twis met verskeie plaaslike liefdadigheidsorganisasies gewikkel oor wie ’n twee-jaar-kontrak toegeken moet word vir die gratis verhuring van die ou gevandaliseerde Nederburg-kliniekgebou in Paarl-Oos, wat nou teen ’n begroting van minstens R500 000 opgeknap sal word.
Die gebou in Plumbagostraat het aanvanklik aan die Wes-Kaapse departement vir openbare werke behoort en is in Julie vanjaar aan die Drakenstein-munisipaliteit oorgedra.
Dit is al vir ’n geruime tyd verlate en het onder erge vandalisme gebuk gegaan.
Die munisipaliteit beplan om nou minstens R500 000 vir die opknapping van die gebou te begroot, waarna dit vir ’n tydperk van twee jaar gratis aan ’n liefdadigheidsorganisasie uitverhuur sal word.
Die verwagting is dat die organisasie aan wie die huurkontrak toegeken sal word, maatskaplike en gemeenskapswerk in die onmiddellike gebiede sal doen.
Altesaam sewe aansoeke is van liefdadigheidsorganisasies ontvang nadat die kontrak op 1 Augustus in die Paarl Post adverteer is.
Slegs drie organisasies het aan die nodige vereistes voldoen.
Die kontrak is uiteindelik verlede week aan die organisasie van die plaaslike sakeman Jeremy Arries toegeken.
Arries kon nie vandeesweek telefonies vir kommentaar oor sy planne met die gebou bereik word nie.
’n Petisie met meer as 300 handtekeninge deur die Klein Nederburg Community Collect het egter intussen die toekenning van die kontrak gestaak.
Dié organisasie is van mening dat die gebou aan individue met onmiddellike belange in Paarl-Oos uitverhuur moet word, het Brandon Jacobs, een van die verteenwoordigers, vandeesweek by navraag gesê.
“Ons het nie ’n probleem met Jeremy Arries nie. Die probleem is dat ons as gemeenskap uit ons eie omgewing uitgesluit word.
“Drakenstein het nie ons mense ingelig oor hul planne met die kliniek nie. Ons mense word geminag en oor die hoof gesien as dit kom by ontwikkeling.
“Die gemeenskap van Magnolia het nie kennis gedra van wat met die kliniek gaan gebeur nie en watter projekte daar gaan plaasvind nie.
“Nie almal het toegang tot die Paarl Post waar hierdie kontrak skynbaar adverteer is nie,” sê Jacobs.
Jacobs het die munisipaliteit daarvan beskuldig dat kontrakte van hierdie aard gewoonlik aan dieselfde organisasies toegeken word.
“Ek het ook ’n organisasie deur wie ek vir die kontrak aansoek gedoen het. Ek het van die begin af geweet dat ek moontlik nooit eers oorweeg sal word nie, want in hierdie munisipaliteit gaan dit oor wie jy ken. Net sekere mense word kontrakte toegeken.
“Die voordeel daaraan om die gebou aan ’n plaaslike organisasie hier uit Magnolia te verhuur, is dat dit dan mense is wat in voeling is met die gemeenskap se behoeftes.
“Ons is selfs bereid om saam met enige organisasie te werk aan wie die gebou uiteindelik toegeken sal word, maar dit is vir ons belangrik dat ons inwoners hier vanuit die omgewing ook betrek word,” sê Jacobs.
Die kontrak was veronderstel om van 1 November af in werking te tree.
Minstens R155 000 sal nodig wees om die gevandaliseerde mure, teëls en vloere te herstel, R100 000 om die dak en plafon te herstel en minstens nog R100 000 vir die herstel van die toilette en sanitasiegeriewe.
Intussen het Seraj Johaar, die uitvoerende direkteur vir korporatiewe sake en beplanning, by navraag gesê die item is terugverwys na die administrasie om verdere bevestiging te kry of die eiendom vir ’n ander munisipale doel aangewend moet word.