Shanelle de Villiers (18) en Chelsea Carolus (18) van die Hoërskool Weston. Foto:


Die Weskus is vol uitblinkers op verskeie gebiede en twee Hoërskool Weston-leerders sal binnekort hul talente op kykNET se reeks Uitblinkers ten toon stel.

Shanelle de Villiers (18) en Chelsea Carolus (18) is onlangs gekies om deel van dié reeks te wees waar leerders die geleentheid kry om op die verhoog uit te blink en boodskappe met kykers te deel.

Volgens Shanelle het sy ingeskryf omdat sy verveeld is in die grendeltyd. “Die drama het my geïnteresseer en daarom het ek ingeskryf,” vertel sy.

Chelsea sê vir haar was dit oor die genot van die saak.

Om bekend te word en die geleentheid om bekendes te ontmoet was die dryfveer agter haar inskrywing.

Kinders wat deel wil wees van die program moet ’n voorbereide opvoering deel. Shanelle het ’n monoloog, Perfek, ingestuur terwyl Chelsea ’n gedeelte uit die boek Onderwêreld deur Fanie Viljoen voorgelees het.

Die tieners loop nou aanlyn klasse en moet maandeliks wys wat hulle geleer het met ’n monoloog.

Ten spyte van die bekende akteurs met wie hulle werk, is die klasse nie meer so senutergend nie, meen Chelsea.

“Die akteurs praat met jou asof hulle ons lank ken. Hulle is almal baie gemaklik en omdat ons nou reeds ’n maand lank klasloop, is dit nie meer so uitdagend nie,” sê sy.

Met die grendeltyd is daar tans nie verfilming nie, maar Shanelle sê wanneer die geleentheid kom, wil sy ’n “baie dramatiese rol” aanpak. Vervaardigers hoop egter om teen Desember te begin verfilm met die uitsaai van dié programme wat dan na verwagting April 2021 sal wees.

Shanelle het besluit sy wil ná skool graag by Afda drama studeer. Chelsea se liefde vir drama het vanjaar posgevat en sy meen ’n toekoms in die kunste is moontlik, maar nog nie ’n uitgemaakte saak nie.

Die twee hoop Uitblinkers ishul geleentheid om meer oor die bedryf te leer en naam te maak.

“Miskien verskyn ek in Suidooster,” sê Chelsea met groot oë.

You need to be Logged In to leave a comment.