‘n Polisiebeampte van die Paarl-Oos- polisiekantoor (vermoedelik ‘n adjudant-offisier) is op 27 Maart weens beweerde verkragting in hegtenis geneem.

Die polisiebeampte het na bewering twee aangehoudenes in die Paarl-Oos-polisieselle verkrag.

'n Polisie unform wat gedra word deur 'n polisiebeampte.
Illustrasiefoto. Foto: Argief

Die beskuldigde het op 7 Mei in die Paarl-landdroshof verskyn waar sy saak tot 7 Junie uitgestel is.

Volgens sers. Wesle Twigg, ‘n woordvoerder van die provinsiale polisie, is die polisiebeampte hangende die ondersoek op borgtog vrygelaat is.

Inligting wat die Paarl Post ontvang het, dui daarop dat die polisiebeampte, wie aan die Paarl Post bekend is, nie geskors is nie en ná sy vrylating weer by die Paarl-polisie ingeval het. Hierdie bewering kon egter nie bevestig word nie weens die provinsiale polisiekantoor wat geen antwoord op hierdie vraag gegee het nie.

Ian Cameron, die voorsitter van die portefeuljekomitee oor polisie, het in ‘n persverklaring in Januarie vanjaar sy bekommernis uitgespreek oor polisiebeamptes wat sake ondersoek en van seksuele oortredings aangekla word.

“Dit is kommerwekkend dat sommige [polisie]-beamptes hierdie misdade pleeg terwyl hulle in volle uniform is, of daardie misdade in polisiestasies (sic)pleeg, of terwyl hulle aan diens is,” lui die persverklaring.

Cameron se verklaring het gevolg nadat die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) bekendgemaak het dat 110 voorvalle van verkragting deur polisiebeamptes vir die 2023-’24-boekjaar by die direktoraat aangemeld is.

“Dit is ontstellend dat soveel gevalle van geslagsgebaseerde geweld gepleeg kan word deur mense wat bedoel is om die oppergesag van die reg te handhaaf, of by ‘n plek van veiligheid soos ‘n polisie[kantoor]. Dit is ook angswekkend dat sommige lede sulke misdade kan pleeg terwyl hulle die Suid-Afrikaanse Polisiediens-uniform dra,” sê Cameron.

Op tuisbodem ondersoek die Paarl- streekhof tans drie verkragtingsake teen polisiebeamptes asook ‘n saak van moord teen ‘n polisiebeampte wat na bewering sy baba doodgeslaan het.

Die Stellenbosch-streekhof ondersoek ‘n moordsaak teen ‘n polisiebeampte wat glo sy vrou doodgeskiet het.

Hierdie inligting is deur ‘n betroubare bron bevestig.

Paarl Post het verlede jaar ook berig oor drie plaaslike polisiemanne wat by verkragtingsake betrek is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article