Twee vroue-ikone by ‘Op ’n stasie’-fees vereer

Die immergewilde Op ’n stasie-fees van Wellington vind binnekort plaas en twee vroue-ikone sal op dié fees vereer word.


Die immergewilde Op ’n stasie-fees van Wellington vind binnekort plaas en twee vroue-ikone sal op dié fees vereer word.

Verlede jaar is die Winnie Rust-prys in die lewe geroep. Die eerste ontvanger hiervan was Hillary Geslin van Wellington Sekondêre Skool. Hierdie prys vereer ’n jong persoon wat uitgestyg het bo baie moeilike omstandighede om die lewe suksesvol vierkantig in die oë te kyk. Hierdie is ter nagedagtenis aan die geliefde Winnie Rust, skrywer en weldoener van Wellington, wat twee jaar gelede wreed en voortydig haar lewe verloor het.

Vanjaar sal twee pryse oorhandig word.

Die eerste gaan aan Marlene le Roux. Sy het op driejarige ouderdom polio opgedoen wat haar gestremd gelaat het. Sy het ten spyte van haar toestand uitgestyg en hoogtes bereik wat nie baie haar kan nadoen nie. Sy het geweier om arm te bly, geweier om haar beenstut te verbloem en geweier om aan selfbejammering te ly.

Vandag is sy die bekende dr. Marlene le Roux, hoof van Kunstekaap en die ontvanger van ’n prys van die Britse Koningin.

Wellington bars van trots om haar ook as deel van ons stasiefees te vereer.

Tans wag die feeskomitee benoemings in vir die tweede toekenning van ’n Wellington jongmens volgens die onderstaande kriteria:

. Die toekenning moet ’n viering wees van die nalatenskap van die stories en boeke van Winnie Rust – die mense wat ’n dapper stryd voer om moeilike omstandighede te oorkom.

. Dit moet ’n randfiguur wees wat ’n “held” of “heldin” in sy/haar eie gemeenskap is en bo die omstandighede uitgestyg het.

. Iemand wat swaarkry en uitdagings kan transformeer tot iets goeds.

. Dit moet iemand wees wat iets regkry en geleenthede raaksien en benut en boonop teruggee in die gemeenskap.

. In die lig van die treurige omstandighede van Winnie Rust se dood, moet die kandidaat verkieslik ’n jong vrou wees. Slegs in buitengewone omstandighede sal ‘n verdienstelike jongman in hierdie stadium oorweeg word.

Benoemings

. Benoemings moet vergesel wees van ’n toepaslike skriftelike motivering van die betrokke kandidaat.

. Naam, van en ouderdom moet verskaf word.

. Die skool of inrigting, ens. waar die persoon betrokke is met kontakbesonderhede.

. Die benoeming moet geteken word deur die nomineerder en ’n getuie met kontakbesonderhede.

. Alle skriftelike benoemings moet by die Wellington-museum ingehandig word of per e-pos gestuur word aan Wellington-museum by e-pos welmus@telkomsa.net.

Die sluitingsdatum vir benoemings is Donderdag 5 April.

Bel Christine Siebrits by 083 231 7027 vir nog inligting of stuur ’n e-pos aan d.j.s@mweb.co.za.

Die toekenning word gemaak ten tyde van die Op ’n stasie-gemeen­skaps­fees op 4 en 5 Mei wat vanjaar by Kleinevalleij aan die voet van die geskiedkundige Bainskloofpas plaasvind.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.