Drie afsonderlike voorvalle waar swemmers in die see in die moeilikheid beland het is Saterdag, 29 November in verskillende dorpe in die Wes-Kaap aangemeld. Twee hiervan het tragies geëindig.
Die voorvalle het by die Palmiet-strandmeer naby Kleinmond plaasgevind, in Tabakbaai in Saldanha, en by Struisbaai se hoofstrand. In al drie gevalle het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) op die voorvalle gereageer.
Schalk Boonzaaier, NSRI in Kleinmond, het in ‘n verklaring gesê dat hul diensspan om 13:23 geaktiveer is nadat ’n vrou by die Palmiet-ruskamp hulp ontbied het. Sy het berig dat haar vriend (51) van Wellington vermis geraak het terwyl hy saam met twee vriende in die Palmiet-strandmeer geswem het.
Boonzaaier het gesê die twee vriende het die man skielik uit die oog verloor toe hulle almal na die oewer teruggeswem het. Toe hulle hom nie weer sien opduik nie, is noodhulp onmiddellik ontbied.
’n Groot groep nood- en reddingspersoneel het op die toneel gereageer, insluitend NSRI Kleinmond se reddingswemmers, Overstrand-brand- en reddingsdienste, die plaaslike polisie, die Wes-Kaapse regering se gesondheidsdienste, Wilderness Search and Rescue, ER24, Overstrand-verkeersdienste, asook BEST-gemeenskapmedici en Overstrand-wetstoepassing wat almal op die toneel vir bystand was.
Volgens Boonzaaier is ’n NSRI jetRIB-reddingsboot van stapel gestuur om die water vanuit verskeie rigtings te deursoek.
Die polisie se Waterpolisie- en Duikdienste (WPDS) is ook in kennis gestel, terwyl Metro EMS-beheer hul hommeltuigreddingseenheid geaktiveer het om lugsteun aan die soektog te verleen.
Boonzaaier sê ’n uitgebreide soektog het gevolg, wat oppervlak- en oewerpatrollies ingesluit het. Verskeie NSRI-reddingswemmers en ’n Metro EMS-reddingsduiker is in die water ontplooi om vryduik-soeklyne uit te voer. ’n Geswikte toestel is ook gebruik om moontlike dryfpatrone te bepaal.
Uiteindelik is die man onder water in die Palmiet-strandmeer opgespoor en in samewerking met die polisie uit die water gehaal. Paramedici het hom helaas op die toneel dood verklaar, luidens die verklaring.
In ‘n onverwante voorval is die lewelose liggaam van ‘n vyftienjarige seun is ook gistermiddag uit die branders by Tabakbaai in Saldanha, gehaal.
Weslander, een van Novus Media se plaaslike koerante, het berig dat kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder van die Weskus-polisie, bevestig het dat Christiano van Rheenen van Diazville vermoedelik verdrink het.
LEES: Nóg ‘n tiener verdrink aan Weskus
Craig McIver, adjunkstasiebevelvoerder van NSRI in Mykonos sê in ‘n verklaring dat dié NSRI-tak om ongeveer 12:00 in kennis gestel is van die verdrinking.
“Berigte het aangedui dat ’n tienerseun vermis geraak het in die brandersone terwyl hy geswem het [en] NSRI-reddingswemmers het direk na die toneel gehaas en die NSRI-reddingsboot, Rotarian Burnett, gebruik.”
“Omvattende see- en oewer-soektogte is begin, insluitend die ontplooiing van ’n NSRI-reddingswemmer in die water om see-dryfpatrone te bepaal, en die soektog is versterk deur ’n polisie-seevaartuig van Sea Borderline Control wat aangesluit het.”

“Tydens die uitgebreide soekpogings is die tiener half onder water drywend in die brandersone opgespoor en op die polisieboot van die seegrens-eenheid gekry en na die oewer gebring,” luidens die verklaring.
Die 15-jarige is daarna dood verklaar.
’n Tienermeisie (18) van die Robertson/Bonnievale-gebied is ook Saterdagmiddag deur lede van die NSRI Agulhas gered nadat sy by Struisbaai se hoofstrand byna verdrink het.
Volgens Shaun Nortje, adjunkstasiebevelvoerder van die NSRI Agulhas, was die bemanning om 15:15 besig met roetine-oefeninge toe ’n ooggetuie hulle noodgedwonge inlig dat daar die tienermeisie gesig-na-onder in die water lê, tussen ander swemmers in die brandersone.
Volgens NSRI se verklaring het hul reddingswemmers deur die branders geswem en die meisie bereik. Hulle kon haar na veiligheid op die strand bring waar noodhulp en resussitasiepogings dadelik begin is.
Die tiener het weer spontaan begin asemhaal terwyl NSRI-bemanning voortgegaan het met mediese ondersteuning.
“Sy was in ’n ernstige, halfbewuste toestand en het simptome van ’n nie-fatale verdrinking getoon. Die NSRI het haar na plaaslike dokters vervoer, terwyl die Wes-Kaapse gesondheidsdienste geaktiveer is.”
“By die dokterskamers het ‘n EMS-ambulans oorgeneem en die tiener in ’n ernstige maar stabiele toestand na die hospitaal vervoer. Volgens Nortje word daar verwag dat sy, onder die sorg van dokters en verpleegpersoneel, volkome sal herstel,” luidens die verklaring.
Volgens beskikbare inligting het die tiener saam met vriende geswem toe minstens drie van hulle in die moeilikheid beland het. Haar vriende kon self op die oewer kom en is nie beseer nie, maar dit blyk dat sy op daardie stadium aan die elemente onderwerp is en in nood verkeer het toe die ooggetuie haar opmerk en alarm gemaak het.




