Plaaslike ballerinas het behoorlik hul beste voet voor gesit in die landwye eindronde van kykNET se Dans in Jou Taal-kompetisie in Pretoria.
Die drie groepe wat deur Bianca’s School of Ballet ingeskryf is, het almal uiters goeie terugvoering van die beoordelaars gekry wat afronding, choreografie en kostuums betref. Daarby het twee groepe hul onderskeie kategorieë gewen.
“Dis ’n besonderse eer, en ’n bewys van hoe hard al my ballerinas gewerk het,” vertel ’n trotse Bianca Baxter, eienaar van Bianca’s School of Ballet.
Haar groep hoërskoolleerders het met hul Jazzy Vibes-passies die senior jazz-afdeling gewen waaraan groepe uit agt streke van die land deelgeneem het. Haar 11- en 12-jarige ballerinagroep, die Umbrella Twirls, was die beste onder die 20 balletgroepe wat in die 8- tot 12-jaar afdeling ingeskryf het. Ook in dié afdeling was Bianca se “kleintjies”, die 8- en 9-jariges, wat saam as die Liquorice-groep gedans het.
Altesaam 31 ballerinas van Wellington en die Paarl en baie van hul ouers het die reis na die noorde meegemaak.
“Dit was ’n wonderlike ervaring en het my ballerinas die kans gegee om op ’n groot verhoog te midde van ligte en televisiekameras te dans,” vertel Baxter.
“Dit het hulle op verskillende vlakke uitgedaag. Al het die senuwees geknaag, was dit vir almal ’n geleentheid om te onthou.”
Sy sê dit was ’n voorreg om te kon deelneem, omdat talle groepe wat hul streekeindrondes gewen het, weens ’n gebrek aan geld onttrek het. Sy sê van die harde werk wat talle ma’s agter die skerms ingesit het is die ekstra geldinsamelingskonsert wat gehou is om seker te maak dat die Drakensteinse-ballerinas kon deelneem.
Baxter se ballerinas kom van bykans alle laer- en hoërskole in Paarl en Wellington.
Terug uit Gauteng was daar egter min kans vir die ballerinas om te ontspan, aangesien almal verlede week hul balleteksamens moes aflê.
Dit was Dans in Jou Taal se vierde seisoen. Die kompetisie word deur die sangeres Nadine aangebied. Dit is die eerste dansprogram op Suid-Afrikaanse televisie wat spesiaal vir skoolgroepe geskep is.
Verskeie dansstyle word in die reeks verteenwoordig. Na verwagting sal die programme waarin Paarl en Wellington se ballerinas skitter, vroeg in 2020 uitgesaai word.