Die Drakenstein-plaaswag (DFW) het slagoffers op ’n ongelukstoneel op die N1-hoofweg naby Paarl bygestaan.Foto: DFW


Twee insittendes is Maandagmiddag ernstig beseer toe ’n Opel-voertuig oor die N1-hoofweg op pad na Paarl gerol en aan die ander kant van die pad op sy dak beland het.

Die ongeluk het om 14:45 gebeur toe een van die voertuig se bande op die hoofweg van Kaapstad se kant af glo gebars het.

Die ongelukstoneel is deur die Drakenstein-plaaswag (DFW) se bevelvoerder, Daan van Leeuwen Boomkamp, beskryf:

“Die voertuig het volgens ’n ooggetuie reg oor die N1-hoofweg se middelbane gerol en aan die ander kant van die hoofweg tot stilstand gekom.”

Dit is deur die stasiebevelvoerder van die Klapmuts-polisie, kapt. Jacobus Moos, bevestig: “Die ongeluk het op die N1 naby die Hoopenberg-brug gebeur. Volgens die bestuurder, Sampson Phiri, was hy in die rigting van Kaapstad na die Paarl onderweg toe die loopvlak van die regteragterwiel van sy wit Opel Kadet losgekom het.”

Volgens Moos het Phiri gevolglik beheer oor die voertuig verloor, waarna dit gerol en op sy dak aan die ander kant van die hoofweg in Kaapstad se rigting beland het.

“Die bestuurder het kopbeserings opgedoen en ’n passasier het heupbeserings opgedoen. Geen ander voertuig was betrokke nie.

Van Leeuwen beskryf die oorlewing van die passasiers as ’n “wonderwerk wat hulle uit die kloue van die dood gehou het”.

Hy sê die DFW was spoedig op die toneel om voorlopige mediese bystand te verleen totdat die ambulansdienste en lede van die polisie en verkeersdienste kort daarna op die toneel aangemeld het.

“Die DFW-bemanning het op die toneel opgetree om die slagoffers te beveilig, te behandel en te stabiliseer. Talle ander spanne van die polisie, verkeersdienste en brandweer het kort daarna gevolg.”

Van Leeuwen sê ’n ooggetuie wat van Kaapstad se rigting af gery en die ongeluk sien gebeur het, het ’n goeie beskrywing aan die owerhede gegee.

Die slagoffers is na die Paarl-hospitaal vervoer.

You need to be Logged In to leave a comment.