Twee buitelandse burgers is verlede week in Wellington in hegtenis geneem nadat hulle met onwettige perlemoen van miljoene rande betrap is.
Volgens sers. Wesley Twigg, die Wes-Kaapse provinsiale polisiewoordvoerder, volg die inhegtenisnemings ná ’n intelligensie gedrewe operasie. Die operasie is deur polisiebeamptes verbonde aan die Kuilsrivier-veediefstal en bedreigde spesies-eenheid in samewerking met die departement van bosbou, visserye en omgewingsake se ondersoekeenheid uitgevoer.
“Die beamptes het inligting ontvang oor ’n vragmotor wat met perlemoen gelaai is en wat vir Gauteng bestem is.
“Die beamptes het daarna die geïdentifiseerde vragmotor in die Wellington-nywerheidsgebied gevind,” sê Twigg.
“Die vragmotor is deursoek en 567,40 kg perlemoen wat in swartsakke versteek is, is in die vragmotor gevind. Verdere ondersoeke het die beamptes na ’n Volkswagen Caddy gelei waar hulle 463,89 kg perlemoen in die voertuig gevind het.
Die geraamde straatwaarde van die perlemoen is R7 miljoen.”
Die verdagtes is ’n 38-jarige Zimbabwiese burger en ’n 34-jarige Malawiese burger. Albei het verlede Vrydag (15 November) in die Wellington-landdroshof verskyn.