Die akteur en stemkunstenaar Chris van Niekerk en die musikant Curtus van Kerwel is die gaste by die volgende “Dis my ding, Wellington”-gespreksreeks by die Breytenbach-sentrum in Wellington.
Dit word Dinsdag 31 Oktober om 19:00 in die Bôrdienghuis-teater gehou.
Die joernalis Engela Duvenage sal hulle oor hul onderskeie loopbane en passies uitvra.
Van Niekerk is onder meer bekend vir sy rolle in Sewende Laan en Fynskrif.
Hy is vroeër vanjaar deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy stemkuns beloon.
Hy woon reeds etlike jare in Wellington, en bedryf ’n antiekwinkel in die dorp.
Van Kerwel is ’n begaafde kitaarspeler en bied ook musieklesse by die Breytenbach-sentrum aan. Hy tree gereeld by die Tuin van Digters-fees op.
Die “Dis my ding, Wellington”-gespreksreeks is vroeër vanjaar by die Breytenbach-sentrum van stapel gestuur. Dit plaas die kollig op Wellingtonners se passies en projekte en gee hulle kans om oor hul kreatiewe idees, hartsgoed of stokperdjies te gesels.
Toegang is gratis. Skenkings ten bate van die Breytenbach-sentrum se bedrywighede is welkom. Bespreek by Jeanine du Frene by 061 156 5386. Bel Engela Duvenage by 082 874 1291 vir nog.





