Die twee mans Dylan Lackay en D’Hanowich Liebenberg wat aangekla is van die moord op Dane Frolicks, oftewel Dane Tatts, is verlede week in die Paarl-streekhof vrygespreek.

Sy familie voel die regstelsel het hulle en vir Frolicks gefaal.

Die 24-jarige tatoeëerkunstenaar is agt jaar gelede koelbloedig voor sy huis in Charleston Hill doodgeskiet.

Die voorval het op 4 November 2014 omstreeks 21:00 gebeur. Frolicks is na bewering vier keer in die kop geskiet.

Op die noodlottige aand het die twee verdagtes Frolicks gesoek en glo vir sy ma gesê hulle wil tatoeëermerke kry.

’n Polisiewoordvoerder het in 2014 aan Paarl Post gesêFrolicks en ’n paar vriende het agter in die erf van hul woning gesit toe sy ma hom kom roep.

“Hy en sy vriendin het die mans aan die voorkant van die huis gaan ontmoet. Dane het glo aan hulle gesê as hulle tatoes wil hê, moet hulle ’n afspraak maak.

“Een van die verdagtes het glo skielik ’n vuurwapen op Dane se kop gerig en die sneller getrek.

“Hierna het hy hom nog twee keer in die kop geskiet.”

’n Familielid van Frolicks het voorheen die hofsaak as ’n “emosionele wipplank” beskryf en gesê dit is ook frustrerend dat die hofsaak meer as een keer uitgestel is.

Dit is ’n groot skok vir die Frolicks-familie dat Lackay en Liebenberg vrygespreek is op die aanklagte van die jongman se wrede dood.

“Die verloop van die saak het die bedroefde familie van Dane Frolicks met meer vrae as antwoorde gelaat.

“Die feit dat die verdagtes vrygespreek is, laat ’n bitter smaak by die familie,” sê ’n woordvoerder van die familie.

“Hul vertroue in die regstelsel is geskend en daar word selfs gewonder of daar nie dalk gekonkel is nie aangesien die weergawes van albei getuies heeltemal ongeldig verklaar is.

“Verder het die landdros die vinger gewys na hoe die polisie die uitkenningsparade van die verdagtes hanteer het – dat daar sekere foute gemaak is tydens dié prosedure.”

Die familie voel verder dat die hof hulle die voorreg ontneem het om berusting te vind, omdat die landdros glo nie die “ordentlikheid” gehad het nie om die volle hofuitspraak te lees in die teenwoordigheid van die familie.

Navrae is gestuur aan Eric Ntabazalila, die Wes-Kaapse woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag.

Geen terugvoering is egter teen druktyd ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article