Franschhoek-polisie het Donderdagoggend op ‘n kreefvonds van 5 461 heel krewe en sterte, beslag gelê.

Foto: Verskaf

Twee mans is Donderdagoggend in Dirkie-Uysstraat, Franschhoek in hegtenis geneem nadat hul met 5 461 heel krewe en kreefsterte gevang is.

‘n Woordvoerder van Franschhoek-polisie sers. Marize Mentoor het aan Paarl Post bevestig dat polisielede tydens die oggendskof om 07:30 ‘n leidraad van ‘n lid van die publiek ontvang het.

“Ons was ingelig dat ‘n voertuig wat ‘n vrag kreef vervoer, vanaf die Franschhoek-pas na Kaapstad onderweg is. Die lede was toe op die uitkyk vir die verdagte voertuig, ‘n silwer Toyota Yaris, en het die motor agterna gesit toe die verdagtes verby die polisiestasie gery het,” verduidelik Mentoor. 

Die polisiemanne wat met die groot vonds spog, het dit teen ‘n waarde van sowat R436 880 beraam.

Mentoor sê dat daar sover twee verdagtes, onderskeidelik 29- en 21-jaar-oud, in hegtenis geneem is. 

“Die verdagtes sal by die Franschhoek-polisiestasie in aanhouding bly tot hulle môre (Vrydag) in die Paarl-landdroshof verskyn.”

You need to be Logged In to leave a comment.