Twee verwoestende brande het die naweek in Klapmuts uitgebreek toe 10 strukture in die La Rochelle-informele nedersetting Saterdagmiddag (29 November) deur vlamme verswelg is en een slagoffer oorlede is. Net ‘n dag later, op Sondag (30 November), het ’n brand ’n huis in Alexanderstraat getref.
Volgens Erica de Villiers, ’n woordvoerder van die Klapmuts-plaaswag, is ’n noodoproep omstreeks 15:00 ontvang oor ’n brand wat in die La Rochelle- informele nedersetting uitgebreek en groot skade aangerig het, terwyl een sterfgeval ook aangemeld is.
LEES OOK: KYK | Brand op plaas buite Saron eis twee kleuters: ‘Ons het hulpeloos gevoel’
Kapt. F.C. van Wyk, ’n woordvoerder vir die Wes-Kaapse polisiediens, het bevestig dat “die liggaam van ’n onbekende [slagoffer] in die puin gevind is nadat die brandweer die brand geblus het. Die liggaam was so verbrand dat dit onherkenbaar was.” Hy het bygevoeg dat die oorsaak van die brand tans onbekend is en dat die Klapmuts-polisie ’n geregtelike doodsondersoek geregistreer het.
Die organisasie Gift of the Givers het ook op die toneel opgedaag om noodhulp te verleen. Hul span het onder meer komberse, kospakkies en ander noodvoorrade aan die geraakte inwoners uitgedeel om onmiddellike verligting in die nasleep van die voorval te verleen.

In ’n tweede, onverwante voorval het ’n huis in Klapmuts Sondagmiddag (30 November) afgebrand. Volgens De Villiers het die plaaswag vir hierdie brand omstreeks 15:00 ook ’n noodoproep ontvang. Die raadslid JC Anthony het bevestig dat die brand in Alexanderstraat ontstaan het, maar niemand is beseer of dood nie.
Hy het verduidelik die vermoede bestaan dat ’n vuur wat in die agterplaas gemaak is, moontlik die oorsaak kon wees. Volgens Anthony het ’n vonk waarskynlik weens die wind uitgespat en die huis aan die brand gesteek. Twee aangrensende huise het ook skade opgedoen, maar kon deur die brandweer van algehele verwoesting gespaar word.
Paarl Post het uitgereik na Klapmuts-polisie oor die brand in Alexanderstraat, wie se terugvoering bygevoeg sal word wanneer dit ontvang word.


