Marciel Hopkins, ’n Paarliet in murg en been en bekende televisie-aanbieder by Bravo! en Boer Soek ’n Vrou, was Maandagoggend (25 September) saam met haar man, Handrè Lourens, in die oorstromings in Franschhoek vasgevang.
Hopkins, wat aan die Hoërskool Gimnasium Paarl gematrikuleer het, en haar man het die langnaweek in die Bolandse pragdorp Franschhoek deurgebring, en vir twee nagte oorgeslaap op die Mont Martre-landgoed.
Hulle het Maandagoggend om 01:45 wakker geword toe die stormagtige weer gedreig het om hul chalet binne te dring.
Hopkins het aan Netwerk24 vertel: “Dit het Sondag die hele dag gereën en nie opgehou nie. Handrè [Hopkins se man] het my Maandag om 01:45 wakker gemaak en ons het gesien hoe die water teen die berg afkom en teen die chalet se deure begin opstoot.”
Volgens haar het hulle handdoeke teen die deur gepak, maar die egpaar is nietemin teen omstreeks 06:00 gedwing om die chalet te ontruim nadat ’n modderstorting gevorm en deur die chalets beweeg het.
“Die modder het deur die chalets begin vloei. Ons chalet was op die punt en die modder was laaste by ons s’n. Ons moes kaalvoet oor die balkon klim met ons tasse in ons hande om uit te kom, want die modder het toe al tot teen die middel van die deur opgestoot.”
Die egpaar kon danksy Lourens se viertrekvoertuig deur die landgoed se hekke ry, maar was in Franschhoek vasgekeer.
Paarl Post het uitgereik na Hopkins, wat verduidelik het dat sy en haar man Maandagmiddag (25 September) eers om 15:00 uit Franschhoek kon ry via die Robertsvleipad nadat die reën bedaar het en ná ’n hele tydjie se gewag in dié dorp.
“ ’n Mens het nie eintlik tyd om enigiets te prosesseer nie. As jy net voor 06:00 wakker skrik met mense wat benoud skarrel en skree, probeer jy maar net so vinnig as moontlik by veiligheid uitkom. Vandag voel dit amper onwerklik en as ’n mens na die skade aan die chalets kyk, is dit skrikwekkend om te dink wat kon gebeur het as almal nie betyds ontruim is nie,” het Hopkins aan Paarl Post gesê.
Die egpaar het van die Mont Marte-landgoed na Franschhoek gery met die idee om Paarl toe te ry, “maar ons het toe vinnig besef al die paaie uit die dorp is heeltemal verspoel met strome water en riviere wat steeds uit die berg afkom”.
Volgens haar was die Franschhoek-pas reeds in daardie stadium gesluit, maar hulle kon darem skuiling geniet in ’n nabye gastehuis wat ’n opening gehad het.
“Ons is om 15:00 in kennis gestel dat die Robertsvlei-pad uit die dorp oop is, want die hele brug was nie verspoel nie; ’n mens kon dit eers sien nadat die reën bedaar het.
“Ek is baie dankbaar dat niemand by Mont Martre seergekry het nie en dat almal voor die ergste skade betyds kon uitkom. ’n Mens kan sê dit is aardse besittings, maar my hart is aan stukke oor miljoene rande se skade aan mense se eiendom en heenkome. Ek besef dat mense se hele inkomste ook daarmee heen is voor die toeristeseisoen, dus bid ek vir elkeen,” het Hopkins gesê.


