Alle oë sal volgende maand op die Drakenstein-munisipaliteit se wyk 27 (Amstelhof) wees nadat die verkiesingskommissie (OVK) aangekondig het dat die tussenverkiesing vir ‘n nuwe raadslid – ná die afsterwe van Vanessa Booysen – op 23 Julie sal plaasvind.
Plaaslike politieke ontleders meen hierdie is ‘n belangrike tussenverkiesing wat ‘n prentjie behoort te skets van wat in volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesings verwag kan word.
Die DA, wat tans die wyk beheer, is reeds die afgelope paar weke volstroom besig met veldtogte om die wyk blou te hou.
Daar is ook ‘n sterk teenwoordigheid van die Patriotic Alliance (PA), met sy partyleier, Gayton Mckenzie, wat die gebied die afgelope naweek besoek het.
Registrasie vir hierdie verkiesing het die afgelope naweek (7 en 8 Junie) plaasgevind.
Volgens die OVK se jongste syfers het die wyk altesaam 3 658 geregistreerde kiesers.
Die OVK het daarop gewys dat kiesers tot 13 Junie tyd het om aanlyn by www.elections.org.za of by hul naaste OVK-kantoor te registreer.
Die tussenverkiesing sal op 13 Junie geproklameer word, waarna die benoemingstydperk vir kandidate sal open.