Dit is die einde van ’n era vir Tupperware Suid-Afrika, wat sy deure ná 60 jaar permanent sluit.

Die besluit beïnvloed etlike huisgesinne, hetsy werknemers of dié wat met die verkoop van Tupperware-produkte ’n kommissie ontvang.

Die Suid-Afrikaanse tak van dié wêreldbekende handelsmerk, wat huishoudings se geliefkoosde plastiekhouers verkoop, het die aankondiging op 29 November gedoen.

Volgens ’n verklaring het Tupperware in die VSA om bankrotskap aansoek gedoen. Dit het veroorsaak dat die Suid-Afrikaanse tak gesluit word. Hierdie besluit tree op 31 Desember in werking.

“As gevolg van die feit dat Tupperware Suid-Afrika geen gietvorms ontvang het om voort te gaan met vervaardiging en ’n Desember- of enige toekomstige produkte-veldtogte te skep nie, is daar slegs ’n beperkte hoeveelheid voorraad vir verkoop aan verspreiders beskikbaar,” lui die verklaring.

“Onder die omstandighede het die maatskappy vrywillige skeidingspakkette oor die hele maatskappy uitgereik, met dienste wat op 31 Desember beëindig word. Daarna sal enige oorblywende personeel wat nie die vrywillige afskeidingspakket aanvaar het nie, van 1 Januarie 2025 afgelê word.”

Verskeie Suid-Afrikaners het met die Tupperware-handelsnaam grootgeword – soveel so dat dit omgangstaal geraak het om plastiekhouers te beskryf.

Ma’s het hul kinders gesmeek om nie hul Tupperware-kosbakke by die skool te vergeet nie en later is na alle plastiekhouers as Tupperware verwys, eerder as om die woord plastiekhouer te gebruik.

Die Paarl Post het probeer uitreik na Tupperware-werknemers en -verkopers, maar was nie suksesvol nie.

You need to be Logged In to leave a comment.