Belangstelling in tuisonderrig het die afgelope klompie jare toegeneem – veral tydens die inperkings weens die Covid-19-pandemie.

Wat die keuse egter nog moeiliker maak, is die wysigingswetsontwerp op basiese onderwys. Kenners is bekommerd oor die invloed wat dit op skole gaan hê en hoe dit tuisonderrig sal beïnvloed. Van die bekommernisse is die regte en verantwoordelikhede van beheerliggame en ouers se reg op inspraak in hul kinders se opvoeding. Kommer heers ook dat die wysigingswetsontwerp skole kan dwing om na parallelmedium-onderrig oor te skakel.

Volgens Impak Onderwys, wat oplossings vir tuisonderrigleerders en ouers bied, stel die nuwe wetsontwerp belangrike veranderings in tuisonderrigwetgewing voor. Sowat 90 000 tuisonderrig-leerders is tans in Suid-Afrika geregistreer.

“ ’n Belangrike verandering vergeleke met die vorige dokumentasie is dat ouers wat hul kind steeds ná graad 9 tuis wil onderrig, van die dienste van ’n private of onafhanklike diensverskaffer, wat deur Umalusi geakkrediteer is, gebruik moet maak om vir die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) te registreer.”

Impak Onderwys glo die volgende paar maande sal die toekoms van tuisonderrig in Suid-Afrika bepaal. Van die redes waarom ouers dikwels besluit om hul kinders tuis te onderrig, sluit onder meer in die gehalte van die onderwysstelsel, ontevredenheid met ’n ideologies ingestelde kurrikulum, inmenging by skoolbeheerliggame en skoolgeld, sowel as oorvol klaskamers, geweld en boelies. Onderwyskenners maan ouers om al die wetlike en ander implikasies na te vors voordat hulle op tuisonderrig besluit.

Tuisonderrig behels dat ’n tuisleerder van skoolpligtige ouderdom (sewe tot 15 jaar) by ’n provinsiale onderwysdepartement geregistreer moet wees.

Die Pestalozzi-trust, ’n regsfonds vir tuisonderrig, sê ten spyte daarvan dat nie-registrasie ’n ouer aan vervolging blootstel, verkies die oorgrote meerderheid van tuisleerders in Suid-Afrika om verskeie redes om nie te registreer nie.

“Die registrasieproses behels dat ’n tuisleerder, wat by die owerheid geregistreer is, aan die minimumvereistes van die kurrikulum in staatskole moet voldoen. ’n Tuisbesoek word gedoen voordat ’n leerder se registrasie deur die onderwysdepartement goedgekeur word. Benewens die SA Skolewet geld ander wetgewing wat op ouers met tuisleerders van toepassing is egter ook,” sê Impak Onderwys.

You need to be Logged In to leave a comment.