Die gewilde fees, Tuin van Digters, is dié jaar nog lekkerder as die vorige vyf jaar.
Aanhangers kan uitsien na ’n ekstra dag van saamkuier by Breyten Breytenbach se grootwordhuis by die Breytenbach-sentrum op Wellington.
Die fees het bekendheid verwerf vir die hoë kwaliteit van besprekings, die loslitlekker musiekprogram, boeiende produksies en sommer net ’n heerlike plek om saam met vriende te kuier en te ontspan. Vanjaar is die lekker selfs langer deurdat ’n bykomende dag by die fees gevoeg is en dit reeds op Vrydag 16 September begin en tot Sondag 18 September duur.
“Daar is min sulke feeste wat net gaan oor die digkuns,” verduidelik Theo Kemp, organiseerder van die fees. Alhoewel die fees se program groter is, is dit steeds in die Breytenbach Sentrum se “agterplaas”.
“Dis juis dié intimiteit van die fees wat vir mense lekker is.”
Kemp raak self kortasem oor dié jaar se program.
“Ek voel baie opgewonde. Waarna ek uitsien is dat ons die Vrydagoggend al begin met ’n simposium.”
Dié program word in samewerking met die Universiteit Stellenbosch aangebied en die room van die Afrikaanse letterkundige wêreld, soos Marlene van Niekerk, Louise Viljoen, Bibi Slippers, Nèlleke de Jager; Andries Visagie, Willem Anker, Alfred Schaffer, Ronel de Goede, Diana Ferrus en vele meer sal op feesgangers toesak.
“’Simposium’ klink altyd so vervelig, so ek sê dit met groot omsigtigheid. Dis meer van ’n lekker robuuste gesprek rondom digkuns en die samelewing. So ons praat oor aktuele kwessies. Dis nie ’n airy fairy-storie oor die digkuns nie, dis wat werklik gebeur.”
Maar die digkuns word in al sy vorme en verskynsels aangepak. Rymkletsers soos die Bekargitek, Jitsvinger van die Kaapse Vlakte, en Akwazi van Nederland gaan gehore vermaak met hul los tonge.
Tribal Echo het tydens hul optrede by laasjaar se fees die gehoor só laat stoftrap dat hulle op aanvraag weer terug is.
Nog ander kunstenaars soos Refentse Morake, Laurie Levine, Les Javan en Mr Cat & the Jackal gaan die woord vier met hul musiek.
Waldi Schultz en Ira Blanckenberg is te sien in ’n nuwe produksie wat geskoei is op Fanie Olivier se keuse van Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte.
In die Omtes van die Hart is ’n produksie met die gevierde Jana Cilliers. Dit is ’n samestelling uit die verhale, vertellings en poësie van Petra Müller. Albei produksies is saamgestel en onder regie van Juanita Swanepoel.
Joan Hambidge se 60ste verjaardag word gevier in die produksie Sixty Love met Olga Leonard en Babette Viljoen, onder musikale regie van Lize Beekman.
Hambidge en haar jare lange vriend, Johann de Lange, gaan ook ’n verhoog deel in ’n opwindende en uitsonderlike geleentheid.
Daar is net te veel hoogtepunte om uit te sonder. Die fees poog regtig om al die sintuie van die besoekers uit te daag. Poësie word selfs op die grootdoek vasgevang met die bekende filmverse terwyl jy van Strijdom van der Merwe se “versblomme” in die tuin kan kom pluk of jou kan verlustig in Boekmerke, ’n groepkunsuitstalling in die Breytenbach-galery. Of jy kan net gaan verdwaal tussen die blaaie van die boeke wat hier verkoop sal word.
“Die Tuin van Digters is toeganklik. En ook vir die digters is dit ’n lekker byeenkoms om mekaar weer te sien. Daar is min sulke geleenthede. En dis ook ’n fees. Dis ’n groot jol. Dis ’n plek waar jy kan sit en kuier, musiek kan luister en kan wandel in die tuin,” aldus Kemp.
Vir besprekings of navrae, skakel Jeanne-Mari Gerber by besprekings@breytenbachsentrum.co.za of 021 873 2786, of besoek die sentrum op die hoek van Burger- en Malherbe-straat op Wellington.
Kry die volledige program op www.breytenbachsentrum.co.za