Inceba Trust het op 11 Oktober sowat 170 kleuterskole, dagsorgsentrums en bewaarskole vereer vir hul belangrike bydrae tot die toekoms van nagenoeg 6 000 kinders in die Kaapse Wynlande. Die Trust het ook ’n vyfster-graderingstelsel bekend gestel vir die voorskoolse sentrums in hul netwerk. Inceba Trust bied deur sy nege mentors ondersteuning aan vroeëkinderontwikkelingsentrums in Franschhoek, Groenheuwel, Khayamandi, Klapmuts, Mbekweni, Melkbosstrand, Paarl-Oos en Wellington in die vorm van opleiding vir opvoeders, voedingskemas, leermateriaal en meer danksy vennootskappe met verskeie ander nieregeringsorganisasies, die private sektor, plaaslike munisipaliteite en die Wes-Kaapse regering. Op die foto stel die Inceba-span die nuwe vyfster-inisiatief vir voorskoolse sentrums bekend. Agter van links staan Cikizwa Benya, Davine Smith, Beronique Smith, Catherine Timmie, Sorene Adams, Tia Conradie, Nomzamo Julayi, Irma Duvenage en Anele Ngxata. Voor, van links, sit Jana Loots, Samantha Kulsen, Loretha Lewis, Purdé Fredericks, Genevieve Plaatjies, Dunyiswa Mehlwana en Nielen Bekker.