Anika Muller en Pieter Lombard op die dag van haar matriekafskeid.


Die trourok van Marika Lombard van Wellington het onlangs – 24 jaar later – nuwe lewe gekry toe haar seun se meisie besluit het om dit vir haar onlangse matriekafskeid te dra.

Volgens Lombard was haar seun se meisie, Anika Muller, op soek na ’n rok vir haar matriekafskeid. Sy is vanjaar ’n matrikulant aan Hugenote Hoërskool. Lombard het eendag vir Anika en Pieter Lombard (gr. 11), haar seun, ná ’n hokkietoernooi in Bellville gaan oplaai toe die gesprek oor Anika se matriekafskeidrok skielik opgekom het.

“Op pad terug vertel Anika sy en haar ma gaan die volgende dag die Kaap platloop, want hulle soek vir lap. Ek het haar gevra watter kleur gaan haar rok wees en sy sê, ‘Ag, Tannie, ek dink sommer groen, maar ek weet nie’. En hulle het toe nog iemand gesoek om die rok te maak. Ek sê toe vir haar, ‘Weet jy wat? Ek was so geseënd, want my ma het my matriekafskeidrok en trourok gemaak. Ek sal jou bietjie wys wanneer ons by die huis kom’.

“Nou ja, toe ons by die huis kom, toe is ek daar bo op ’n kas. Ek het dit uitgehaal en geskud en Anika sê, ‘Tannie ek het my siel verloor’. Sy vra toe of sy dit kan aanpas en ek sê vir haar ja, sy mag. Die rok het so mooi aan haar gesit en sy vra toe of sy dit na haar matriekafskeid kan dra en ek het gesê dit is nie verpligtend nie, maar as sy wil dan mag sy.”

Volgens Anika het ’n paar gedagtes deur haar kop gegaan toe sy die eerste keer haar oë op Lombard se trourok gelê het.

“Een van die gedagtes was definitief dat ek lyk soos ’n prinses en ek wil beslis met hierdie rok matriekafskeid toe gaan. Ek was net so in awe dat hierdie tannie vir my die rok sal gee om matriekafskeid toe te gaan. Dit was regtig vir my baie spesiaal.”

Met hul aankoms by die onthaal, vertel Anika, het sy ’n bietjie gestres, want almal se oë was op haar.

“Ek meen, dit is heeltemal anders as die gewone matriekafskeidrokke, maar anders as dit het ek regtig gevoel soos ’n prinses wat rondstap en ek het ’n paar komplimente gekry ook.”

Amoré Muller, Anika se ma, stem saam. “Sy het absoluut soos ’n prinses gelyk. Baie pragtig.”

Volgens Anika het sy ’n groen rok in gedagte gehad wat haar soos ’n prinses sou laat voel, maar Lombard se rok het al haar verwagtinge oortref. Sy meen dit was “ ’n duisend keer beter”.

Die rok is 24 jaar gelede deur Lombard se oorlede ma, Annaline Borman van Fochville, gemaak. Borman is vier jaar gelede aan kanker oorlede.

“Ek het vir my suster foto’s van Anika en Pieter op die dag gestuur. En sy sê vir my, ‘Sussie, kyk ’n bietjie, daar in die agtergrond van die foto’s is daar ’n reënboog’. Ek sê vir haar ja, ek het die reënboog gesien en ek het dit gevolg en waar hulle twee by die onthaal gestap het, was daar weer ’n reënboog.

“Sy sê vir my sy het gaan oplees daaroor en dit beteken glo dat dit die teenwoordigheid is van iemand wat reeds oorlede is. En dit kan dalk net my ma wees.”

Haar matriekafskeid sal altyd onthou word as een van die gelukkigste oomblikke in haar lewe, maar vir eers, met die matriekafskeid agter die rug, berei Anika haar nou voor vir die matriekeindeksamen wat op 21 Oktober begin.

You need to be Logged In to leave a comment.