Martinette van Hansen (39)Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

’n Bruilof is waarskynlik een van die hoogtepunte in enige vrou se lewe – ’n magiese dag gevul met trane van blydskap en familie en vriende wat byeenkom. Dit kan egter in ’n oogwink verander as jy in die week van die troue uitvind dat die “troubeplanner” met wie jy jou hard verdiende geld mee vertrou, eintlik ’n swendelaar is.

Die polisie in Durbanville het onlangs ’n lasbrief uitgereik vir die inhegtenisneming van Martinette van Hansen, ’n beweerde bedrieglike troubeplanner van Malmesbury.

Van Hansen word beskuldig van drie bedrogsake – een in Durbanville en twee in die Paarl.

Die lasbrief is op 24 Oktober uitgereik en Van Hansen sou na verwagting in die Bellville-landdroshof verskyn.

Kapt. FC van Wyk, ’n Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het egter vandeesweek aan Paarl Post bevestig sy is nog nie aangekeer nie.

Van Wyk het die drie aanklagte bevestig.

Die aanklagte spruit uit bewerings dat sy haar kliënte laat betaal vir troubeplanningsdienste, wat onder meer spyseniering, dekor, troukoeke en pragtige onthaallokale insluit.

Sy verdwyn dan soos mis voor die son nadat die betaling ontvang is.

Netwerk24 het onlangs berig oor ’n Paarlse paartjie wat glo meer as R110 000 vir spyseniering, dekor en hul troukoek aan Van Hansen betaal het, maar dit nooit ontvang het nie.

Met die nuus oor Van Hansen wat deur die polisie gesoek word, het verskeie ander paartjies ook na vore gekom en vertel hoe hulle ook dieselfde ervaring met haar gehad het.

Chrili Smit, ’n Grabouwer wat tans saam met haar man in Abu Dhabi woon en waar sy as ’n onderwyseres werk, het aan Paarl Post vertel hoe hul troue in 2018 amper daarmee heen was toe Van Hansen glo die week van die troue nie meer op haar ma se WhatsApp-boodskappe reageer nie.

Smit het in daardie stadium reeds in Abu Dhabi gewoon en haar ma het die meeste van haar troureëlings hanteer.

“My ma het aanvanklik op Facebook op haar afgekom, en sy het blykbaar ook verskeie ander troues al gedoen. Ons het haar dus toe genader vir die spyseniering.”

Min het Smit geweet Van Hansen sal haar familie van meer as R26 000 besteel.

Van Hansen het ’n deposito van R3 000 geëis. Die uitstaande bedrag was R23 265, wat toe ook aan haar betaal is.

“Dit het begin met haar wat die heeltyd verskonings gemaak het wanneer my ma haar sou vra dat hulle saam na die onthaallokaal gaan kyk. Iets het net altyd aan haar kant voorgeval.”

Smit se troue is vir 28 Julie 2018 beplan en sou by die Krabbefonteyn-onthaallokaal in Grabouw plaasvind.

Haar ma, Margaret Smit, het die week van die troue (22 Julie) met Van Hansen gepleit om op haar boodskappe te reageer nadat sy op ’n vorige geleentheid die lokaalbesoek moes kanselleer weens ’n “familiekrisis”.

“Goeie middag, ek hoop jou familiekrisis is opgelos. Ek neem aan jy sal Vrydag hier wees om die vleis te ontvang? Asseblief, moenie my dogter se mooiste dag in haar lewe opmors nie,” het haar ma se boodskap aan Van Hansen gelui.

Van Hansen het egter nie hierop reageer nie, en dit is toe die familie onraad vermoed en alternatiewe reëlings begin tref.

“Gelukkig het ek darem familie daar by die huis gehad wat bereid was om my op die laaste oomblik te help. Ek kan nie eens dink waardeur ander paartjies en spesifiek bruide moes gaan wat nie betyds besef het hulle word ingeloop nie,” het Smit emosioneel aan Paarl Post gesê.

Haar ma het aan Paarl Post gesê hulle het Van Hansen wel verkla, maar niks het tot nou van die saak gekom het nie.

“Ons het ’n klagte van bedrog teen haar by die Grabouw-polisiekantoor gaan aanmeld, ’n saaknommer gekry, en dit was dit – ten spyte daarvan dat ons hulle ingelig het dat sy toe in Riebeeck Kasteel gewoon het.”

Van Hansen het tot nou toe steeds nie op Smit se ma se boodskap van 31 Julie 2018, waarin sy ’n terugbetaling eis, reageer nie.

Sy kan glo ook nie telefonies bereik word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article