Ek stem volkome saam met W.B. se brief in verlede week se Paarl Post omtrent mnr. Rademeyer se kortsigtige ondersteuning van alle ontwikkelings.

Ja, ontwikkeling is belangrik vir werkskepping en dies meer, maar tog behoort ’n streep iewers in die sand getrek te word.

Paarl en Wellington is juis bekoorlik omdat hulle welvarende dorpe binne ’n pragtige landelike gebied is. Baie mense het juis jare gelede hier [eiendom] gekoop om tussen die wingerde te wees.

Maar kyk nou net hoe die munisipaliteit blitsvinnig toestemming gee om elke lappie grond te ontwikkel. Die hange van Paarlberg is ook al so erg ontsier deur huise hoog op en ek kan nie help om te wonder hoeveel meer grond afgestaan gaan word hiervoor nie.

Dan ook is ’n berig in verlede week se koerant nog bewys dat hoe meer hier ontwikkel word, hoe meer bring dit ongewenste elemente – kyk maar byvoorbeeld die bus vol onwettige immigrante wat by Paarl [voorgekeer] is, die talle haweloses in ons strate en die plakkerskampe wat net al hoe groter word. Kyk maar ook na die toenemende gevalle van ernstige misdaad wat nou hier plaasvind. Ons paaie loop ook erg deur weens die geweldige toename in verkeer.

W.B. is reg. Dit gaan alles oor geld, en ek kan nie help om te wonder wie se sakke word hierdeur gevul nie –dit is gewis nie die breë publiek van die Paarl en Wellington nie; hulle word immers net verder verarm.


J. Visser,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.