Kom draf, kom stap, kom vier Afrikaans met die Toyota Stellenbosch Woordfees se opwindende Velddraf met woorde, wat Sondag 12 Oktober by die KleinBlouKlip-plaas, net bokant Paradyskloof in Stellenbosch, plaasvind.

Ontvlug die rompslomp van jou bestaan. Moenie ‘n rusbankpokkel of inkoejawel wees nie. Kom draf, kom stap, kom vier Afrikaans met die

Toyota Stellenbosch Woordfees se opwindende Velddraf met woorde.

Die woord, die fees en die gees word hierdie Sondag (12 Oktober) met hierdie gewilde pretdraf gevier. Dis ‘n unieke viering van Afrikaans in beweging. Hier draf of stap jy nie met ‘n nommer nie, maar met ‘n woord. Elke deelnemer kry ‘n Afrikaanse tongtrippelterm as registrasie-“nommer”. Dalk is jy “holderstebolder”, “spoedvraat”, “agteros” of “slampamper”. Dis ‘n viering van die bekkigheid van Afrikaans, waar taal in ‘n vrolike veldwedloop voete kry.

Deelnemers kan kies om aan die Vastrap of die Japtrap deel te neem. Die Vastrap is 10 km lank en die Japtrap is 5,9 km.

Dit vind plaas op die pragtige KleinBlouKlip-plaas, net bokant Paradyskloof in Stellenbosch. Deelnemers kan pragtige uitsigte van die Helderberge, Tafelberg, Simonsberg en Stellenboschberg verwag.

Skote petoors!

Die Velddraf is vir die pret en plesier en vir die taal, dus sal geen amptelike tye geneem word nie. ‘n Prysuitdeling met podiumpryse vir die eerste drie deelnemers (mans en vroue) asook die oudste en jongste deelnemer word wel gehou.

Al maak jy teen ‘n slakkepas klaar, kan jy ook dalk iets in die geluktrekkings wen en elke deelnemer ontvang ‘n spekboompie as medalje.

Woorde en die WAT

Laat die woorde soos klippies in jou mond rondrol en dink solank wat vir jou die mooiste en lekkerste woord in Afrikaans is. Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) gaan by die Velddraf wees as jy belangstel om jou gunstelingwoord te borg.

Wees ‘n rakker, ‘n vasbyter en kom bokappel tussen die wingerde deur. Jy en jou konfraters kan te voet kom polmesarie hou. Of soos jy dalk sou sê: Bring jou pelle, huppel deur die lande en kom hou partytjie op die plaas.

Plek: KleinBlouKlip-plaas, Stellenbosch

Datum: Sondag 12 Oktober

Registrasie (vooraf): Vanaf 07:00.

Neem kennis: Inskrywings op die dag is beskikbaar teen ‘n bykomende administrasiefooi van R50. Die byeenkoms het plek vir net 500 deelnemers en geen inskrywings sal op die dag beskikbaar wees as dit aanlyn uitverkoop is nie.

Wedlope

• 10 km Vastrap – 08:00 | R150

• 5,9 km Japtrap – 08:15 | R100

Roetes

Vastrap – 310 m se opdraandes: Dis ‘n pragtige roete wat oor naburige plase soos Vriesenhof, Eden, Huis in die Bos, verby die Dylan Lewis-beelde-tuin, deur woude, oor riviere en oop vlaktes met asemrowende uitsigte kronkel. Van hierdie paadjies is nie normaalweg oop vir die publiek nie. Waterpunte is oral langs die roete en jy word terugverwelkom met ‘n yskoue Coke of selfs ‘n Mimosa.

Japtrap – 155 m se opdraandes: Die roete is die perfekte kombinasie van wingerduitsigte en bospaadjies. Die roete strek verby Vriesenhof se proelokaal en restaurant voordat jy by Eden ingaan, verby Huis in die Bos waar die 5-km- en 10-km-roetes by mekaar aansluit en jy by die waterpunt kan afkoel. ‘n Yskoue Coke of ‘n Mimosa wag vir jou by die eindstreep.

Die roetehoof is Nicola Martin van One4Adventure.

Pryse geborg deur EasyEquities

Wenners ontvang beleggingsgeld om in ‘n EasyEquities-rekening te belê:

• 1ste plek – R3 000 se beleggingsgeld

• 2de plek – R2 000 se beleggingsgeld

• 3de plek – R1 000 se beleggingsgeld

Beleggingsgeld is geldig vir drie jaar. ‘n Spesiale “Louis Massyn”-prys wag op die oudste deelnemer, en ‘n verrassingsprys op die jongste.

Monarch Coffee Cartel sal van 07:00 af regstaan vir die opwarming met koffie en happies.

Parkering is by die Vriesenhof-wynlandgoed beskikbaar. ‘n Pendeldiens ry tussen Vriesenhof en die KleinBlouKlip-plaas.

Die Veldtrap is trots geborg deur EasyEquities, CN&CO, Coke, Oasis Water, PVM, Monarch Coffee Cartel, Stellies.

Stuur e-pos na candice@woordfees.co.za vir navrae of nog inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.