’nNuwe borg, naamlik Rhodes Quality, is pas aangekondig vir die Premier-halfmarathon in die Boland wat op Werkersdag, Woensdag 1 Mei, sal plaasvind.

Voorheen bekend as die Safari-halfmarathon, is hierdie alombekende padwedloop vir meer as 30 jaar ’n hoogtepunt in die Boland-omgewing se hardloopkalender.

Benewens die gewilde halfmarathon-afstand sal daar ook 10 km- en 5 km-wedlope wees wat op ontspanningsdeelnemers en gesinne gemik is.

Die geleentheid begin en eindig weer in die nabyheid van die Hugenote Hoërskool in Wellington.

Die roete sluit skouspelagtige natuurskoon in en is ideaal vir alle vlakke van hardlopers, insluitend stappers, aangesien daar amptelik geen spertye is nie.

Almal wat hul wedloop in die verskillende afstande voltooi, sal ’n medalje ontvang.

Daar sal ook in die spysenierings- en drankbehoeftes van deelnemers en toeskouers op die wedrendag voorsien word, met talle stalletjies op die perseel wat ’n verskeidenheid kosprodukte sal verkoop.

Die halfmarathon word al vir 35 jaar aangebied en is ook ’n gunsteling onder elite- en klubhardlopers van oor Suid-Afrika heen wat meeding om aansienlike prysgeld.

Rhodes Quality, ’n bekende Suid-Afrikaanse familiehandelsmerk met ’n sapfabriek in Wellington, is verheug om die geleentheid te kan borg.

Maria Soares, bemarkingshoof van die Rhodes Food Group, sê “familie is die kern van die Rhodes Quality-handelsmerk”.

“Ons is sedert 1896 daartoe verbind om gehalte en heilsame produkte vir Suid-Afrikaanse gesinne te vervaardig, van ons ingemaakte groente- en vrugteprodukte tot by ons konfyte en 100%-vrugtesappe. Ons is opgewonde om deel te wees van ’n erfenisgeleentheid wat gesondheid, welstand en familie in die huis van ons sapfabriek vier.”

Deelnemers aan die halfmarathon sal ’n geskenkpak ontvang, gevul met ’n verskeidenheid heerlike Rhodes Quality-produkte.

Die Rhodes Quality-halfmarathon word deur Boland Atletiek ondersteun en is ook ’n amptelike wedloop op die 2024 padhardloopkalender.

Ander vennote sluit in die Wellington-atletiekklub en die Wellingtonse Rapportryers.

Hierbenewens is die Drakenstein-munisipaliteit ’n jare lange ondersteu­ner en vennoot, aangesien die geleentheid werk skep en toerisme ’n hupstoot gee, met baie hardlopers en hul gesinne wat Wellington en die omliggende gebiede besoek om deel te neem of hul gesinne op die wedloopdag te ondersteun.

Talle liefdadigheidsorganisasies het ook die afgelope 35 jaar voordeel uit die wedloop getrek en die genomineerde liefdadigheidsorganisasie en begunstigde in 2024 sal die Huis Andrew Murray Kinder- en Jeugsorgsentrum wees.

Daar is nog altyd groot klem gelê op “teruggee” aan die breër Bolandse gemeenskap uit hierdie geleentheid, en Rhodes Quality sal voortgaan met hierdie tradisie.

Alle paaie sal op 1 Mei na die skilderagtige dorpie Wellington lei – so merk hierdie gewilde geleentheid op jou kalender vir vanjaar.

Inskrywings vir die Rhodes Quality-boeket van hardloop- en stapgeleenthede sal binnekort op die webwerf van Top Events beskikbaar wees.

Besoek www.topevents.co.za om in te skryf.

?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article