Die Kaapse Wynland-rampbestuursentrum en verskeie ander brandbestrydings-organisasies het tot dusver vanjaar behoorlik bontgestaan om talle brande te bestry wat voortdurend opvlam. Die afgelope weke was die hele Boland in digte rook verswelg. En Sondag het valleiers na hul asem gesnak toe die mooi Bainskloofpas weer gebrand het.

Gelukkig het grond- en lug-brandweerspanne in alle gevalle vinnig tot die redding gekom en uiteindelik die brande geblus.

Maar, tot dusver, en met die brandseisoen wat nog nie naby aan ’n einde is nie, is derduisende hektaar veld- en plantegroei verwoes, terwyl verskeie strukture in puin gelê is.

Die eindbedrag van hierdie brandseisoen se finansiële skade gaan gewis etlike miljoene rande beloop.

’n Kwelpunt is dat te veel brande deesdae in die somermaande opvlam, en dit word grootliks aan menslike nalatigheid asook blatante brandstigting toegeskryf.

Deur die jare is mense op heter daad betrap waar hulle brande gestig het, maar dit blyk nie geregtigheid het hier geseëvier nie, aangesien sulke sake soos as in die wind verdwyn.

Niks gaan dus verander indien die gereg nie streng optree nie, want hulle steel van die publiek en krenk Moeder Natuur, en al te dikwels het hierdie brande ook tot lewensverlies gelei.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article