Die Transnet-staking kan tot talle werksverliese in die Wes-Kaapse bessie bedryf lei.Foto:


Meer as 12 000 poste in die bessiebedryf in die Wes-Kaap, wat 4 000 permanente poste en 8 000 seisoenale poste insluit, is op die spel sou die voortslepende Transnet-staking nie dringend opgelos word nie.

Die sitrus-uitvoerseisoen het geëindig, en die steenvrugseisoen moet in November ernstig begin, wat dit ’n belangrike tyd maak vir bessie-uitvoer, spesifiek bloubessies.

Daar word ook geraam dat tussen 80% en 90% van diegene wat in die bessiebedryf werk, vroue is.

Dit is volgens Berries ZA, ’n liggaam wat bessiebedryf-besighede verteenwoordig.

Die Wes-Kaapse minister van finansies en ekonomiese geleenthede, Mireille Wenger, het gesê funksionerende en doeltreffende hawens is van kritieke belang vir die provinsie se ekonomie deur die streek se indrukwekkende groei in uitvoer moontlik te maak. Uitvoer lewer ’n geraamde totale ekonomiese bydrae van by die R66 miljard, of 8,6% van die provinsiale BBP.

“Dit is hoekom die huidige situasie by die hawens baie kommerwekkend is,” het Wenger gesê.

“Sedert die begin van die staking 11 dae gelede lê dieselfde drie vragskepe in die Kaapstad-hawe vasgemeer, vergeleke met die omkeertyd, insluitend wagtyd om vas te meer, van gewoonlik vier dae. ’n Verdere vier vragskepe wag ook om vas te meer. Selfs meer kommerwekkend is die feit dat minstens vier vragskepe die hawe van Kaapstad heeltemal vermy het sedert die begin van die staking.”

Die Wes-Kaapse minister van landbou, dr. Ivan Meyer, het gesê: “Die huidige arbeidsgeskil is ’n beduidende risiko vir die bessiebedryf, aangesien dit die aansienlike groei wat dit oor die laaste paar jaar ervaar het, ondermyn. Die bedryf het ’n groei van 33% getoon in die gebiede van die Wes-Kaap waar bessies geproduseer word.

“Gegewe die arbeidsintensiewe aard van die bessiebedryf is dit ’n noodsaaklike bydraer tot werkskepping in die landbousektor.

“Die bessiesektor fokus op uitvoer. Swartbessies van die Wes-Kaap is byvoorbeeld hoofsaaklik vir die Europese markte bestem, met ongeveer 55% van die Wes-Kaapse swartbessie-uitvoer wat na die Verenigde Koninkryk gaan, gevolg deur Saoedi-Arabië met 13% en Koeweit (11%) onder die top-10-invoerlande. Gegewe bogenoemde moet die huidige arbeidsgeskil so gou moontlik opgelos word. Versuim om dit te doen, kan ander uitvoerprodukte beïnvloed,” het Meyer gesê.

“Ons ekonomie, wat swaar getref is deur Covid-19, kan nie so ’n ontwrigtende staking bekostig nie, dit gepaard met die land se energiekrisis,” het Wenger verder gesê.

“Sleutelhawedienste is noodsaaklik vir die toekoms van ons land en behoort so deur alle betrokkenes hanteer te word. Ons moet Suid-Afrika eerste stel en ek herhaal ons oproep aan alle partye om in goeder trou te onderhandel, met inagneming van ons gemeenskaplike doelwit om die ekonomie te laat groei, werk te skep, en om weer hoop en vertroue in ons provinsie en land aan te wakker.”

You need to be Logged In to leave a comment.