Enkele dae voor Kersfees wanneer families bymekaar kom en tyd saam spandeer is twee gesinne van die Paarl se lewens onherroeplik verander nadat hul geliefde seuns in afsonderlike voorvalle op die pad gesterf het.
Die 16-jarige Matt Botha is Vrydagaand (19 Desember) dood nadat hy deur ‘n voertuig omgery is terwyl hy op sy fiets gery het.
Volgens sers. Wesley Twigg, provinsiale woordvoerder vir die Wes-Kaapse polisie, het dié insident omstreeks 20:30 in Jan van Riebeeck-rylaan gebeur.

Twigg het by navraag gesê een persoon is kort ná die noodlottige voorval in hegtenis geneem.
“Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek. Ons kan bevestig dat ‘n 46-jarige man in hegtenis geneem is en aangekla word van strafbare manslag en bestuur onder die invloed van alkohol. Enigiemand met inligting wat hierdie voorval gesien het, kan Misdaad Stop nommer kontak by 08600 10111 of die MySAPS-toepassing anoniem gebruik.”
Paarl Post het uitgereik na Matt se ma, maar teen die tyd van publikasie nog geen terugvoering ontvang nie. Matt was ‘n leerder aan Bergrivier Sekondêr in Wellington.
Nóg ‘n slag vir die dorp is die skielike afsterwe van Steve ‘Lux’ Nortier. Sy ma Zeugnette Nortier het met hartseer bevestig dat hy Saterdag (20 Desember) in die kusdorpie Hartenbos, naby Mosselbaai, verongeluk het.
Hy was ‘n oud-leerder van Hoërskool Gimnasium Paarl en is deel van die bekende Nortier-familie wat die 7 Days Supermark en Family Farmstall in Noorder-Paarl besit.
Steve het ten tyde van sy dood teen kanker geveg maar volgens sy ma nooit moed opgegee nie.
“Hy het ‘n stryd gevoer teen fase 4 kankers van die longe, lewer en pankreas en was steeds besig met chemo behandeling. Al het die siekte hom oneindig pyn veroorsaak, was hy ‘n positiewe vegter. Hy het soveel as moontlik gereis en mense en plekke besoek soos sy gesondheid dit toegelaat het.”

Zeugnette beskryf verder haar seun: “Hy was ‘n mense-mens, lief vir sy rugby, visvang en vir besigheid. Almal ken hom as ‘n regte keffiekat!”
Kort voor die noodlottige ongeluk het Steve ‘n paar ure geslaap omdat hy veskriklik moeg was van die chemo. Toe hy wakkerskrik, vertel sy ma, het hy besluit om te ry na ‘n winkel by ‘n vulstasie en dis toe die ongeluk gebeur het.
“Ons harte is gebreek. Steve is wyd en suid geliefd en gewild.”
Zeugnette onthou sy en haar man Braam was baie onrustig toe Steve ry. “Sy pa het hom gebel om te vra waarheen ry hy en toe sê hy winkel toe. Ná nog so 20 minute het sy pa hom weer gebel en toe is sy foon af. Ons het hom gaan soek en op die ongelukstoneel afgekom waar verkeer, die polisie en paramedici ook reeds was. Dis die ergste ding ooit.”
Die 41-jarige Steve het onlangs vir hom ‘n Landcruiser gekoop en hy het planne gehad om dit spesiaal te laat toerus vir ‘n kamp wat binnekort sou afkom. Hy het met die einste voertuig verongeluk.
“Hy was so trots op sy nuwe monster trok. Ons verstaan geensins hoekom dit moes gebeur het nie.”
Met hul aankoms op die ongelukstoneel, vertel Zeugnette, was dit ‘n verskriklike hartseer ontdekking om uit te vind dat hul seun nie die ongeluk oorleef het nie. “Ek is baie hartseer maar ook bitter dankbaar dat ons ons seun nog kon vashou en koester asof hy net slaap; dis moeilik. Dis enige ouer se nagmerrie. Daar word vermoed [hy is dood aan ‘n] hartaanval of blackout. Hy was maar baie siek. Forensies is besig met ‘n ondersoek.”

Steve het in Junie vanjaar sy lewensmaat aan die dood afgestaan. “Sy het haar stryd teen kanker verloor en dit was vir hom baie swaar, maar sy het ‘n bitter positiewe, gelowige invloed op sy lewe gebring.”
Volgens Zeugnette sal sy vir Steve onthou as iemand wat altyd lewe gebring het tot ‘n geselskap. “Sy hand was oop om mense te help. Van klein tot groot, hy was onder almal geliefd. Hy was ook bekend as Lux Wholesale vir sy Weskus Snoeke.”
Geen begrafnisreëlings is teen Maandag (22 Desember) bevestig nie.



You must be logged in to post a comment.