’n Dansvideo van personeellede by Toyota Paarl het sosiale media laat ontplof en binne ure miljoene kyke op TikTok aangeteken en bewys dat selfs motorhandelaars met ’n bietjie kreatiwiteit groot aanlyn sukses kan behaal.
Volgens George Tossel, die tak se nuwemotorverkoopsbestuurder, is die video deel van Toyota Paarl se nuwe sosialemediastrategie, wat in Januarie vanjaar van stapel gestuur is toe hy by die tak aangestel is.
Op die video, wat die afgelope Maandag (6 Oktober) aanlyn gedeel is, kan gesien word hoe die Toyota Paarl-span ‘n aanlyn tendens op sosiale media probeer naboots, maar hoe dit ‘n ander, snaakse wending neem.
Tossel het aan Paarl Post gesê die video was sy idee en is reeds ongeveer 3,7 miljoen op TikTok alleen gekyk. Die video is ook op Toyota Paarl se Instagram- en Facebookblaaie gedeel, waar dit ook verskeie kere gekyk en gedeel is, maar die grootste sukses was met TitkTok.
Die video het net Maandag op TikTok ongeveer twee miljoen kyke verower.
Volgens hom het die tak sedert Januarie vanjaar hande gevat met Creatory, ‘n bemarkingsonderneming in die Paarl, wat die gewilde video geredigeer en die musiek en bewoording bygevoeg het.
Tossel het bygevoeg hy fokus daarop om die mense “agter” Toyota Paarl te bemark “omdat ‘n Toyota homself verkoop”.
Hierdie inisiatief word geneem omdat “mense” dié gewilde voertuie verkoop en hy wou graag hierdie werknemers aan die publiek bekendstel.
Volg Toyota Paarl op TikTok, Instagram en Facebook onder @toyota_paarl.


