Hawelose word as gevolg van gure weerstoestande sedert verlede week en vir die volgende paar dae in die Toringkerk se saal gehuisves.


Met die koue weer wat sedert verlede week in Drakenstein heers, het Paarliete hul warm hartsgesindheid teenoor haweloses gewys.

Noodbehuising word sedert verlede week vir hawelose mense in die Toringkerk se saal verskaf. Hierdie inisiatief is moontlik gemaak deur die plaaslike organisasie Heart NPO, wat hom daartoe wy om minderbevoorregtes te ondersteun.

Mandie Erasmus, stigterslid van Heart NPO, het twee jaar gelede ’n geestelike uitreikgroep begin wat sedertdien weekliks by die Toringkerk-saal en ander plekke plaasvind. Hierdie byeenkomste bied nie net geestelike ondersteuning nie, maar ook maatskaplike dienste en praktiese hulp.

“Ons betaal [ook] vir hulle om in te skryf vir vaardigheidsontwikkeling en opleidingsprogramme,” verduidelik Mandie.

Die onlangse kouefronte het die behoefte aan hul dienste groter gemaak.

“Dit is verskriklik daarbuite. Donderdag (11 Julie) het van die mense papnat en honger hier aangekom; siek ook,” sê Erasmus.

Sy en haar span het die kerk genader vir hulp, wat gelei het tot die gebruik van die Toringkerk se saal as ’n tydelike skuiling.

Tussen 80 en 100 mense vind nou tydens die voortslepende koue weer elke aand ’n veilige hawe in die saal.

“Ons deure gaan eers vroegaand oop en dan moet die haweloses wat hier om hulp kom aanklop, weer vroegoggend uit die saal uit,” verduidelik Erasmus.

“Ons sit vir hulle kartonne uit in die saal om op te lê met warm komberse, want ongelukkig sou dit nie moontlik wees om in so ’n kort tydperk genoegsame matrasse in die hande te kon kry nie.

“Die haweloses ontvang hier ook ’n warm maaltyd en droë klere. Die aand eindig met ’n fliek, waarna dit tyd is vir slaap. Die volgende oggend word hulle ontbyt gegee, waarna die saal skoongemaak word vir die volgende aandsessie.”

Die projek sou oorspronklik voortduur tot Dinsdag (16 Julie), maar die kerkraad het besluit om die inisiatief te verleng.

“Die kerk maak die vergunning van ’n verlenging as gevolg van die snerpende koue weer wat nog hierdie week heers. Ons is sover tot Sondag 21 Julie besig met die Storm Relief-inisiatief. Ds. Jana het ook genoem die kerkraad sal nader aan die tyd weer na die weervoorspelling kyk. Indien die gure weer verder voortduur tot ná die 21ste, mag ons dalk die inisiatief hier langer bestuur.”

Erasmus sê wanneer die haweloses vir die nag aankom, word hulle eers deursoek vir wapens of ander ongewenste goedere soos drank of dwelms om almal se veiligheid te verseker.

Ongelukkig, ook om veiligheidsredes, sluit die projek egter sekere individue uit, soos minderjariges en mense met geestesversteurings.

“Aangesien dit ’n saal is met ’n klomp mense daarin – mans en vroue – wil ons nie enige kanse waag nie,” verduidelik Erasmus.

Sy en haar span is baie dankbaar teenoor die gemeenskap wat reeds na hulle uitgereik het met ruim skenkings om die projek van die grond af te kry. Erasmus doen ook ’n beroep op enigiemand wat ’n bydrae wil lewer, soos nie-bederfbare kos, klere en komberse, om dit by die Toringkerk se saal af te gee.

Sy sê hierdie inisiatief is ’n goeie voorbeeld van hoe gemeenskappe in tye van nood saamstaan om die menslikheid en omgee van die Drakenstein-gemeenskap te beklemtoon.

. Kontak Erasmus by 062 537 5206 met navrae of om ’n bydrae te lewer

You need to be Logged In to leave a comment.