Ruswahl Samaai, die suksesvolle verspring-atleet en ’n boorling van die Paarl, het die hart van ongeveer 30 leerders in Paarl-Oos bly gemaak toe hy onlangs skoolklere en -skoene aan hulle geskenk het.
Ruswahl voel dit is net meer as reg om terug te ploeg in die gemeenskap waar hy grootgeword het. Hy het vier primêre skole besoek, naamlik Nederburg, Amstelhof, Paarlzicht en Magnolia.
“Ek ken swaarkry. Ek weet hoe dit voel om met stukkende skoolskoene skool toe te gaan, en ek weet dat daar baie kinders van hierdie skole wat ek gekies het, is wat nie bevoorreg is om skoolskoene en -klere te hê nie. Ek wil ’n verandering in my gemeenskap maak – stukkie vir stukkie,” vertel Ruswahl oor wat hom aangespoor het om die projek aan te pak.
Dit was nog altyd ’n droom van hom om ’n goeie impak in sy gemeenskap te maak met wat hy het, ongeag hoe groot of klein nie.
Ruswahl is ook ’n voormalige leerder van twee van die skole waar hy skenkings gedoen het. “Ek was in Paarlzicht Primêr tot gr. 4. My ouma, Katie Matthews, het my kom uithaal en my in Amstelhof Primêr geplaas sonder dat my ma, Minnie Samaai, daarvan weet. Haar [ouma Katie se] rede hoekom sy my uit Paarlzicht gehaal en my in Amstelhof gesit het, was om my nader aan haar te hê,” onthou Ruswahl.
Hoewel hy al die onkostes van die skenkings gedek het, het hy gevoel om net op die kinders te fokus en nie op homself nie. “Dit het nooit oor my gegaan nie. Die doel was om te help waar ek kan met die bietjie wat ek het. Dit het my hart bly gemaak en ’n traan in my oog gesit om te kan doen wat die Here my gewys het om te doen,” verduidelik Ruswahl.
Sy goeie werk stop nie hier nie. Dit is die begin van ’n hele paar projekte wat hy in die toekoms in die Paarl wil aanpak.
Op dié noot het Ruswahl laat weet, “Ek sal nie enige inligting daaroor uitgee nie, maar daar is nog baie wat ek in my gemeenskap wil doen.”