Ananda van der Walt van Wellington is bekend vir haar werk as gebaretaal-tolk vir die Dowe gemeenskap in die Drakenstein-vallei en omliggende gebiede, maar dit is nie haar enigste rol nie. Sy is ook die ma van drie kinders op die outismespektrum en die eggenoot van ‘n man wat self met outisme leef. As gesin het hulle saam ‘n kunsuitstalling by die Breytenbach-sentrum aangebied om bewustheid te skep oor hierdie neuro-ontwikkelingsteuring en die ervarings van mense wat daarmee saamleef, uit te beeld.

‘n Roeping tot diens aan die Dowe gemeenskap

Van der Walt het in 2016 saam met haar gesin na Wellington verhuis. Sy kom oorspronklik uit die Vrystaat, maar het ook vir ‘n paar jaar in Noordwes gewerk.

Sy het haar sedert haar studiejare vir die Dowe gemeenskap beywer, waar sy Gebaretaal as vak geneem het terwyl sy haar BEd-graad in onderwys voltooi het. Daarna het sy verder studeer en haar honneursgraad in linguistiek aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi.

Sy het die eerste keer in 2005 as Gebare- taal-tolk opgetree, waarna sy na Noordwes verhuis het en by dié universiteit as navorser en gehaltekontroleur in die tolkkantoor aangestel is – ‘n pos wat sy tot 2015 beklee het.

Tussen 2005 en 2015 het sy ook Dowe kultuur en -geskiedenis, Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SASL) en linguistiek aangebied en ook van tyd tot tyd as akademiese tolk opgetree.

Nadat sy en haar gesin besluit het om in 2016 na die Wes-Kaap te trek, bied sy haar dienste as ‘n Gebaretaal-tolk op ‘n vryskut-basis aan en is sy tans een van die min Gebaretaal-tolke in die Drakenstein, asook die Breedevallei, wat ‘n groot Dowe gemeenskap huisves.

Sy is ook steeds ‘n akademiesie tolk en het haar tolkdienste onlangs by die Universiteit Stellenbosch aangebied.

Sedert haar skuif na Wellington het sy by verskeie projekte aangesluit, insluitend die Hands with Words-bediening, ‘n organisasie sonder winsoogmerk, in Kaapstad, wat hom beywer om die Dowe gemeenskap te bedien.

Van die bediening se projekte sluit die vertolking en videoproduksie van die Bybel in SASL in – ‘n projek waaraan Van der Walt tans deelneem.

Van der Walt bied elke laaste Sondag van elke maand ook Gebaretaal-tolking aan die Dowe gemeenskap van die Gereformeerde kerk Paarl, waar haar man ‘n dominee is.

Die ontslape Cornal Hendricks se suster is hier ‘n gemeentelid.

Van der Walt het onlangs haar dienste as Gebaretaaltolk by Hendricks, die oud-Springbok-vleuel van Wellington en wat in Mei weens ‘n hartaanval dood is, se begrafnis op 25 Mei voortgesit toe sy die begrafnis op versoek van Hendricks se suster, wat doof is, vertaal het.

Outisme

Buiten Van der Walt se werk as Gebaretaal-tolk is sy ook ‘n ma, wat drie van haar vier kinders op die outismespektrum met sorg en liefde grootmaak.

Sy is die eggenoot van ‘n man wat ook outisties is.

Volgens Van der Walt is hierdie rol waarin sy haarself bevind, beide “bevrydend asook kompleks”.

“Ek leer goed oor die lewe wat ek nooit sou geleer het nie,” sê Van der Walt.

Sy sê sy sou sukkel om hierdie pad met haar familie te stap indien sy nie gelowig was nie.

Die Van der Walt-gesin het onlangs – van 4 tot 30 April – ‘n uitstalling in die Breytenbach-sentrum aangebied waar by monde van haar familie, insluitend haar kinders, outisme in die Van der Walt-huishouding uitgebeeld is en hoe elkeen daaroor voel.

Van die kunswerke sluit in gemengde media, sketse en skilderye.

Ben Truter, die direkteur van die Neurodiversiteit-sentrum, het op 17 April as gasspreker by die kunsuitstalling opgetree met die tema “Rethinking the autisms and neurodiversity”.

Van die wins wat gemaak is, is aan die Boland Skool vir Outisme geskenk.

You need to be Logged In to leave a comment.