Motoriste gaan van 1 Maart af gemiddeld 6,25% meer moet betaal vir tolgeld by die verskillende tolpaaie van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral).

Volgens Sanral word die tariewe jaarliks in ooreenstemming met verbruikersprysinflasie verhoog. Dit is net effe minder as verlede jaar se verhoging van 6,58%.

Vusi Mona, hoofbestuurder van kommunikasie en bemarking by Sanral, sê die tolhek-inkomste is nodig om die tolpaaie in stand te hou.

Die geld word ook gebruik vir die afbetaling van skuld wat aangegaan is om ’n tolpad te bou.

Die nuwe tolgeld is reeds op 6 Februarie in die Staatskoerant gepubliseer.

Die tolgeld by die Hugenotetonnel op die N1 by die Paarl styg van die huidige R47,50 tot R50,50 vir ligte voertuie.

Die tolgeld vir die Tsitsikamma-tolpad op die N2 deur die Tuinroete styg van R63,50 tot R67,50.

Die Verkeerdevlei-tolhek op die N1 in die Vrystaat styg van R68,50 tot R72,50.

Vir ’n bestuurder van ’n ligte voertuig wat van Gauteng na Durban ry, kos dit tans R307,50 om deur vyf verskillende tolhekke op die N3 te ry. Voortaan­ sal dit vir dieselfde voertuig R326,50 kos.

Tolgeld vir swaarder voertuie kos veel meer as vir ligte voertuie.

Die hoogste tolgeld is van 1 Maart af die R572 wat ’n klas 4-swaarvoertuig betaal om deur die Tsitsikamma-tolhek op die N2 te ry.

Sanral bied wel afslag aan gereelde gebruikers van dieselfde tolhek, asook aan plaaslike gebruikers.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 4 December 2025
    Paarl Post – E-edition – 4 December 2025

Gift this article