Die Wellington-krieketklub sê hy moes net in die afgelope maand altesaam agt voorbereidende wedstryde in aanloop tot vanjaar se krieketseisoen te midde van die stand van die Pen Basson-sportveld kanselleer.
Die klub sê lidmaatskap is aktief besig om af te neem en selfs nuwe bestuurslede, wat onlangs verkies is, dreig om te bedank weens die gesukkel om die munisipaliteit te kry om die veld behoorlik in stand te hou.
Diep “slote” is onlangs deur munisipale instandhoudingspanne dwars oor die kolfblad gemaak, wat die kolfblad volgens die klub onbruikbaar gemaak het.
Al wou die klub graag self kenners aanstel om die kolfblad betyds te herstel, kon hulle nie omdat instandhouding net deur die Drakenstein-munisipaliteit gedoen moet word.
Volgens Eugene van Stapelberg, die klub se voorsitter, word gereeld met die munisipa-
liteit se gemeenskapsdienste-afdeling gekommunikeer rakende instandhouding wat gedoen moet word.
Paarl Post verstaan ‘n gebrek bestaan oor werkers met die nodige tegniese kennis oor die instandhouding van krieketvelde.
Van Stapelberg sê dit is dus ongelukkig dat die klub en sy lede, wat dikwels groot uitgawes aangaan vir toerusting en om by oefeningsessies uit te kom, nou só benadeel word. Hy sê die verwagting was nog altyd dat die krieketveld en sy geriewe “buite seisoen” in stand gehou en voorberei moet word.
Hy het ook gesê die klub moet dikwels self uitgawes aangaan of borge kry vir die doel van instandhouding en vervanging van geriewe soos die nette.

Faarieg Rhoda, die Drakenstein-munisipaliteit se waarnemende uitvoerende direkteur vir gemeenskapsdienste, het by navraag gesê die munisipaliteit het geen amptelike kennisgewing ontvang van agt krieketwedstryde wat gekanselleer moes word nie.
“Die amptelike krieketseisoen in Drakenstein begin eers Saterdag (4 Oktober). Om verder duidelikheid te gee: Die Wellington-krieketklub is een van verskeie gebruikers van die Pen Basson-sportterrein in Wellington. Die Pen Basson-fasiliteit, wat dikwels verkeerdelik as die Wellington-krieketklub aangedui word, word deur toegewyde munisipale toesighouers en Leading Hands bestuur.
“Gedurende die buite-seisoen (1 April tot 30 September) doen die munisipaliteit gereelde instandhouding aan die krieketveld,” het Rhoda verseker.
Volgens Rhoda werk ‘n vaardige span aan die kolfblad en ‘n klein plant-operateur is by die fasiliteit aangestel om die kolfblad behoorlik te onderhou.
Rhoda sê hoewel die Drakenstein-munisipaliteit vir die instandhouding van die fasiliteit verantwoordelik is, het die Wellington-krieketklub vrywillig met sekere herstelwerk gehelp – soos aan die nette.
“Die munisipaliteit het die meeste van die materiaal voorsien en die installasie met ons eie span voltooi. Die veld is tans in ‘n heel speelbare toestand.
“Die Drakenstein-munisipaliteit verseker die publiek dat die terrein gereed is vir die amptelike krieketwedstryde wat Saterdag begin.”






You must be logged in to post a comment.