Nóg ’n aanval by Paarl Arboretum; ‘Toesig is dringend nodig’

Die Paarl Arboretum – eens ’n trots van die dorp en ’n toevlugsoord vir natuurliefhebbers – is besig om vinnig in ’n onveilige en verwaarloosde plek te verval.


Die Paarl Arboretum – eens ’n trots van die dorp en ’n toevlugsoord vir natuurliefhebbers – is besig om vinnig in ’n onveilige en verwaarloosde plek te verval.

Met die nuutste aanvalle in hierdie eens pragtige boompark, vra inwoners: Hoeveel meer slagoffers moet daar wees voordat daadwerklike optrede geneem word?

Saterdag het nóg ’n bejaarde man ’n noue ontkoming gehad toe hy tydens sy oggenddraf deur ’n aanvaller met ’n mes gedreig is. Die voorval, wat omstreeks 10:55 naby die laagwaterbrug aan die Ceciliastraat-kant van die Arboretum plaasgevind het, het daartoe gelei dat sy selfoon gesteel is.

Die slagoffer het sy aanvaller probeer afweer en het uiteindelik ontsnap, waarna die boosdoener gevlug het.

Hierdie is nie ’n afgesonderde voorval nie. In Maart vanjaar is ’n ander bejaarde man deur ’n groep tieners met gholfstokke aangeval. Hy het ernstige beserings opgedoen en selfs ’n hartstilstand-situasie beleef.

En intussen het nog voorvalle plaasgevind, veral waarby ’n groep tieners betrokke was.

Die Arboretum, geleë langs die Bergrivier en bekend vir sy unieke versameling van meer as 4 500 bome van oral in die wêreld, het oor die jare ’n toevlugsoord vir haweloses, vandale en misdadigers geword. Die park, wat oorspronklik vir ontspanning en genot geskep is, is nou vervalle, met verskeie beskadigde heinings, oop hekke, rommel en selfs kabeldiefstal as die algemene gesig.

Ondanks ’n belegging van R7,1 miljoen deur die Duitse stad Neumarkt om die Arboretum na ’n klimaatslimpark op te gradeer, is daar steeds min toesig of wetstoepassing in die gebied.

Gemeenskapslede wat gereeld die Arboretum geniet, is bekommerd oor die stand van sake daar. Baie meen die park het ’n ernstige gebrek aan sigbare beheer en samewerking tussen munisipale strukture, buurtwagte en die polisie.

Ian Cameron, ’n DA-parlementêre kandidaat, het die Arboretum vroeër vanjaar saam met gemeenskapslede skoongemaak in ’n poging om dit veiliger te maak. Hy het toe beklemtoon die huidige situasie moet dringend aangedurf word om ’n verdere tragedie te voorkom.

Die Arboretum behoort een van die kroonjuwele van die Paarl te wees, maar dit is duidelik dringende optrede is nodig om sy veiligheid en skoonheid te herstel. Gemeenskapslede vra nou hoe lank die munisipaliteit en polisie nog gaan wag voordat die situasie reggestel word. Gaan dit eers gebeur wanneer iemand vermoor word, of sal die nodige veranderinge nou ingestel word?

By navraag oor die stand van sake by die Arboretum, het Eda Barnard gesê die munisipaliteit is vasbeslote om die Arboretum esteties op te gradeer en dit ook veiliger te maak.

“Ons parke-afdeling het oor die laaste paar weke die gras, struike, bosse en bome daar gesny, sodat booswigte nie hulself daaragter kan versteek nie.”

Sy sê ook die Arboretum word daagliks deur die munisipaliteit se Green Rangers gepatrolleer. Die munisipaliteit werk ook nou saam met ander rolspelers, soos die polisie, om die veiligheidsmaatreëls daar verder te verskerp. Gebiede is in samewerking met die polisie geïdentifiseer waar sekere ingrypings gemaak gaan word, soos die aanbring van ligte. Die polisie se onderskeie eenhede sal ook voortaan die Paarl Arboretum vir oefening-doeleindes gebruik.

Die vervanging van die heining is ’n hoë prioriteit vir die munisipaliteit en sal binnekort herstel word.

Die volgende wenke word aan besoekers gegee:. Beweeg in groepe;. Los waardevolle artikels tuis;. Moenie ná sonsondergang of voor sonsopkoms alleen gaan draf, fietsry of stap nie;. Wees altyd bedag op mense wat verdag lyk; en. Meld verdagte mense of voorvalle by 021 807 8508 aan.. More attacks on members of the public have occurred in Paarl’s once beautiful Arboretum.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.