Die Franschhoek-polisie ondersoek nóg ’n voorval waar vier mans die afgelope naweek twee buitelandse toeriste in ’n gastehuis op ’n plaas in Franschhoek oorval, beroof en ontvoer het.
Dit volg slegs ’n week nadat ’n soortgelyke huisrooftog op ’n plaas op die Verdunpad in Franschhoek uitgevoer is.
In die jongste voorval op Sondag 25 Augustus is twee buitelandse toeriste in die vroeë oggendure deur die vier onbekende mans, wie se gesigte glo bedek was, oorval en van elektroniese toestelle en juweliersware beroof.
Só het lt.kol. Frederick Rossouw van die Franschhoek-polisie by navraag aan Paarl Post gesê.
“Die rowers het ook aangedring op kontant, maar die slagoffers het gelukkig slegs kredietkaarte by hulle gehad. Hulle het toe die slagoffers in hulle [die slagoffers se] voertuig gelaai en met hulle tot buite die dorp gery, waar die slagoffers vrygelaat en hul voertuig aan hulle terugbesorg is. Die twee is ongedeerd,” het Rossouw verduidelik.
Volgens Rossouw het die polisie traumaberading aan die slagoffers gebied.
Al vier rowers is nog op vrye voet.
Dié voorval volg slegs ’n week nadat vier mans op Vrydag 16 Augustus mense in ’n plaashuis op die Verdunpad in Franschhoek oorval en beroof het.
Die rowers was in hierdie voorval ook glo met messe gewapen en het na bewering die slagoffers vasgebind terwyl verskeie items gesteel is.
Paarl Post het verlede week berig oor die kommerwekkende styging in rooftogte met hierdie modus operandi.
Die DA se provinsiale woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid en polisie-oorsig, Thomas Walters, het verlede week by navraag gesê die beste manier om sulke georganiseerde misdaad te beveg, is deur ’n intelligensie-gedrewe benadering.
“Dit is egter duidelik dat baie meer werk deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gedoen moet word om die status van misdaadintelligensie in ons provinsie te verbeter.
“Op die oomblik bly 62% van ernstige misdade in die Wes-Kaap onopgelos weens ’n ernstige gebrek aan toegewyde ondersoekeenhede in die provinsie,” het Walter gesê.
Hy het bygevoeg dat die polisie se senior bestuur bekwame leierskap moet aanstel en die nodige hulpbronne verskaf om die nasionale polisiediens se vermoë tot intelligensie-insameling te herbou.
City Press het onlangs berig dat die SAPD tussen 2017 en 2023 nagenoeg 8 400 speurders verloor het.
Teen September 2023 was daar sowat 17 000 speurders in Suid-Afrika.
Hulle is verantwoordelik vir die ondersoek na ’n geskatte 27 272 moorde (slegs in die 2022-’23-boekjaar), om nie eens te praat van seksuele geweld, rooftogte, georganiseerde misdaad, aanranding, korrupsie en ’n magdom ander misdade nie.
Rossouw het intussen ’n beroep op inwoners gedoen om die nodige voorsorg te tref.
Dit volg nadat die Franschhoekpas ook intussen as ’n brandpunt vir ontvoerings, kapings en rooftogte geïdentifiseer is.
Hy het inwoners herinner aan die gebrek aan selfoon-ontvangs op sekere dele van die pas.
“Ons moedig dus stappers, drawwers en fietsryers aan om in groepe te beweeg. Wees gedurig bewus van wat om jou aangaan.
“Vir diegene op plase – ry gereeld ’n draai om die plaas en maak seker dat daar nie kwesbare punte is waar hierdie rowers maklik toegang tot die plaas kan verkry nie.”