Toerisme in Drakenstein
Tydens die onlangse Drakenstein munisipale raadsvergadering was toerisme wéér op die vergadering se sakelys. Foto: Argief/ Jana Scheepers

Tydens die onlangse raadsvergadering van die Drakenstein-munisipaliteit was toerisme wéér op die vergadering se sakelys waar die munisipaliteit ‘n opdatering verskaf het oor die ontwikkeling van die vrywillige toerisme-adviesraad asook die munisipaliteit se breër toerismeplan. Tydens dié item het André Fourie, VF-Plus raadslid sy ongelukkiheid uitgespreek en aangevoer die item kry nie die nodige aandag nie. Die VF Plus het toe sy ondersteuning aan hierdie item onttrek.

Laurichia van Niekerk, die Drakenstein-munisipaliteit (DM) se burgemeesterskomiteelid vir toerisme, sport en ontspanning het tydens die raadsvergadering op 29 Oktober gesê goeie vordering word gemaak aan die munisipaliteit se toerismeplan en dat opposisiepartye, (in die geval die VF Plus) té hoë verwagtinge het om die proses vinniger af te handel.

Volgens Van Niekerk het die DM in die laaste ses maande ‘n konsep-toerismeplan (wat op 30 Julie vir openbare kommentaar gesluit het) ingedien wat uiteensit hoe die munisipaliteit beoog om die toerismesektor in die vallei te bevorder.

Verder het sy gesê dat die munisipaliteit verhoudinge gebou het met drie plaaslike toerisme organisasies genaamd GoWellington, Paarl Wine Route en Enjoy Drakenstein.

LEES OOK: Munisipaliteit gaan weer ‘n toerismekantoor open

Volgens haar word daar ook vordering gemaak met die vrywillige toerisme adviesraad.

Luidens Seraj Johaar, DM se uitvoerende direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste het die munisipaliteit 17 aansoeke van inwoners ontvang.

Van dié 17 beklee vier uitvoerende posisies op die drie plaaslike toerisme organisasies waarmee die munisipaliteit hande vat, het Van Niekerk gesê.

Die volgende stappe wat die DM sal volg, het Van Niekerk tydens die raadsvergadering verduidelik, sluit in om met “vyf sektorliggaamdeskundiges” in verbinding te tree wat insluit die voorsitter van die Franschhoek Wine Valley toerisme-organisasie, ‘n lid van Wesgro se bemarkingspan, ‘n verteenwoordiger van die departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme, die uitvoerende hoof van Cape Town Tourism en die voorsitter van die Western Cape Chapter of Women in Tourism.

Fourie was tydens die item op die sakelys as ‘n spreker gelys waarin hy gesê het dat sy party hulself aan die item onttrek omdat die VF Plus nie saamstem oor hoe die DM die item bestuur nie.

Hy het aan Paarl Post gesê dat die toerisme adviesraad ‘n “klap in die gesig vir die privaatsektor is” omdat individue van dié sektor aansoek by die munisipaliteit moet doen om op die raad te dien, terwyl hy voel dat die munisipaliteit in hierdie manier beheer wil uitoefen oor die item, wat ‘n munisipale funksie is.

Verder het Fourie aangevoer dat individue met meer ervaring in toerisme op die raad kan dien.

Sy party het in Mei 2024 toerisme, wat Fourie beskryf as die Drakenstein-munisipaliteit se “stiefkind” as ‘n mosie by die raad ingedien.

David Frost, voorsitter van die Paarl-belastingbetalersvereniging, wat sy naam in die hoed gegooi het om op die toerisme adviesraad te dien in sy amptelike kapasiteit as vooristter van die vereniging, voer aan dat alhoewel vordering gemaak word teen opsigte van die bevordering van toerisme in die vallei, dit te lank neem.

LEES OOK: Hoop vir toerisme in Drakenstein

Volgens hom sou dit voordelig gewees het indien “planne reeds inplek was” vir die opkomende Kersseisoen wat toeriste na die area lok.

Luidens Johaar is kommentaar oor die konsep-toerismeplan “ontvang en in ag geneem”.

“Daar is aanbeveel dat die [konsep-toerisme]plan finaal gemaak word sodra die vrywillige toerisme-adviesraad formeel aangestel is, aangesien hierdie forum saam met die munisipaliteit as gesamentlike bewaarder van die plan sal dien,” het Johaar verduidelik.

“Die raad het die beduidende vordering in die vestiging van die vrywillige toerisme-adviesraad verwelkom en die lys van lede van die toerisme-adviesraad se kennerpaneel, wat in die proses sal help, goedgekeur.”

Hy het bygevoeg dat ‘n datum vir die onderhoudsproses van die 17 aansoekers moet nog bepaal word.

You need to be Logged In to leave a comment.