Plaaslike inwoners het die lente en die begin van toerismemaand Vrydag 1 September amptelik in die Kaapse Wynlande verwelkom.
Saam met mediavennote en die plaaslike toerismeverenigings in die distrik het die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) toerismemaand in die Paarl van stapel gestuur.
Toerismemaand maak voorsiening vir ’n vars en hernude fokus op toerisme en die belangrikheid van hierdie sektor op die Suid-Afrikaanse ekonomie.
“Toerisme en groen belegging”, die KWDM se tema vanjaar, beklemtoon die belangrike rol van toerisme in die bevordering van inklusiewe ekonomiese groei en ontwikkeling.
Dit is ook in pas met die tema vir Wêreldtoerismedag, wat jaarliks op 27 September gevier word.
Die KWDM nooi in sy hoedanigheid as streektoerismekantoor almal uit om deel te wees van die vieringe, geleenthede en aktiwiteite wat tydens toerismemaand in ons pragtige streek gaan plaasvind.
Almal is hierdie maand – maar ook enige tyd van die jaar – in die Kaapse Wynlande welkom.
“Gedurende heerlike warm dae kan besoekers van alle ouderdomme unieke aktiwiteite ervaar, wat avontuur en opwinding in wye oop ruimtes onder uitgestrekte blou lug bied,” sê dr. Elna von Schlicht, die KWDM-burgemeester.
“En saans, wanneer die son sak en die lug soos fluweel voel, sal die warmte en gasvryheid wat dié distrik se mense kenmerk, jou bederf met bekroonde wyne en heerlike spyskaarte vol plaaslike geure en produkte.”