Baie is onlangs geskryf oor waarheen Paarl-rugby op pad is.

My mening ten opsigte van ontwikkeling van rugby op grondvlak, oor die algemeen, is die volgende:

Ek stem saam dat spelers nie genoeg blootstelling en geleenthede kry om te ontwikkel nie. Die grootste aantal spelers wat deur provinsies/franchises/unies gekontrakteer word, kom slegs uit die Cravenweek/SA o-20’s, en veral in die geval van gekleurde spelers word dit voorgehou as ontwikkeling. Vir die res van die spelers (skole en klubs) is daar bitter min/geen platforms waarop hulle hul talente kan wys om sodoende raakgesien te word nie.

Die huidige stelsel bied nie die nodige geleenthede vir ontwikkeling van daardie “agtergeblewe” spelers van alle kleure –(skole- en klub-spelers) nie – diegene wat nie Cravenweek/Junior Bokkies/Varsity Cup haal nie, se talent gaan verlore en gevolglik is dit rugby op die hoogste vlak wat armer is daarsonder.

Nie almal is beskore en bevoorreg om in goeie skole te wees en in die Cravenweek en Varsity Cup te speel nie. Vir diesulkes moet ook platforms geskep word om te ontwikkel.

Om hierdie saak aan te pak, moet die “Board-stelsel” (in klubs én in skole) weer in die lewe geroep word – soos die geval was voor eenwording in rugby. Toe was provinsies soos WP/Boland e.a. in streke ingedeel. ’n Verteenwoordigende span is uit elke streek gekies en is dié span byvoorbeeld “Paarl Board”/City and Suburban ens. genoem. Hierdie ligas het teen mekaar gespeel en uit daardie kompetisies is ’n verteenwoordigende WP/Boland-span gekies.

Paarl is op sy eie ’n liga waar alle klubs teen mekaar speel. Daar is geen onnodige vervoer en sulke logistieke probleme wat groot druk op klubs plaas nie. Slegs die Board-span reis om teen ander te gaan speel. So ’n kompetisie sal groter belangstelling en toeskouer-getalle meebring – en meer inkomste vir elke klub beteken.

Dit is baie makliker om talent so te identifiseer, want dis ’n feit dat beter/sterker kompetisie die beste uit ’n speler na vore bring; wat maak dat ’n speler se talente beter ontwikkel. Spelers is meer gemotiveerd om beter te vaar – nie net aa gevolg van die kompetisie nie, maar ook omdat hy erkenning kry en beloon word met ’n baadjie/das/pet, maar belangriker – die status wat daarmee gepaardgaan.

Ek is van mening dat die destydse era van ligas (Federasie en Saru) meer beteken het vir die ontwikkeling van gekleurde spelers, en dat daar baie meer spelers is wat Springbok-kleure sou gekry het as vandag.

’n Ander manier om ons spelers te ontwikkel, is om álle spelers wat die skool verlaat, te verplig om vir ’n tydperk van twee tot drie jaar klubrugby te speel (behalwe die Varsity Cup-manne) – Unies kan hulle steeds kontrakteer, maar hulle sal eers ná hul verpligte speeltydperk in klubrugby in die provinsiale spanne opgeneem mag word.

Buiten dat hul talente daar baie beter sal ontwikkel, ontwikkel hulle ook hul liggame (word sterker en dus minder beserings soos bv. Salmaan/Sascha).

Dieselfde liga-stelsel moet in skole-rugby van toepassing wees. Provinsies koop enkele spelers in die naam van ontwikkeling – maar wat van die res? Daar is baie spelers wat byvoorbeeld op ’n spesifieke dag nie deur ’n “talent-scout” raakgesien word nie en deur die krake in die stelsel val.

Skep ligas in skolerugby (die groot rugbyskole uitgesluit). Hierdie ligas speel dan in die groot skolekompetisies. In plaas daarvan dat die groot unies individuele spelers kontrakteer, moet hulle/SARU liewer gebind word aan die finansiering van genoemde ligas.


Lyndon Arendse,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.