Die Pretoriase Hooggeregshof moet nog sy besluit oor die publisering van matriekuitslae bekend maak. Foto: Pexels

Die stryd oor die publisering van matriekuitslae het weer onder die soeklig gekom toe die Pretoriase hooggeregshof Dinsdag (28 Oktober) uitspraak in die saak tussen die Inligtingsreguleerder (IR) en die Departement van Basiese Onderwys (DBO) voorbehou het.

Die dispuut het oorspronklik in 2022 ontstaan toe die DBO beplan het om te keer dat matriekuitslae in koerante verskyn.

AfriForum en ander organisasies het destyds suksesvol in die hof betoog dat dit in die openbare belang is dat uitslae wel gepubliseer word, mits leerders slegs deur hul eksamennommers geïdentifiseer word. Die DBO het die uitspraak aanvaar, en uitslae is sedertdien in 2022, 2023 en 2024 volgens hierdie praktyk bekend gemaak.

Nietemin het die IR aan die einde van verlede jaar probeer keer dat die 2024-uitslae gepubliseer word, met die argument dat dit in stryd sou wees met die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popi). Die poging het egter in Januarie vanjaar misluk toe regter Ronèl Tolmay beslis het dat publikasie toegelaat moet word.

Die burgerregteorganisasie AfriForum, Maroela Media en ander partye het as belanghebbendes aan die verrigtinge deelgeneem toe die saak Maandag (27 Oktober) en Dinsdag (28 Oktober) aangehoor is.

“Vir AfriForum is die saak op twee vlakke van belang – dit is vir sommige matrikulante belangrik om hul uitslae so gou as moontlik en so maklik as moontlik in die hande te kry. Ons voel dat hul privaatheid voldoende beskerm word wanneer hul eksamennommers gebruik word om dit te publiseer. Die saak raak ook aan die Popi-wet en daar was nog nie veel litigasie oor dié wet nie. Hierdie saak gaan baie bydra tot wanneer ’n saak in die openbare belang is en wanneer iemand se privaatheid geskend word,” sê Alana Bailey, AfriForum se hoof vir kultuursake.

Tydens die jongste hofverrigtinge het advokaat Marius Oosthuizen SC namens die DBO aangevoer dat die gebruik van eksamennommers voldoende beskerming bied vir leerders se privaatheid en dat mediavryheid in ’n demokrasie beskerm moet word. Advokaat Quintus Pelser SC, wat AfriForum, Maroela Media en Anlé Spies verteenwoordig, het beklemtoon dat Maroela Media gratis nuus aan die publiek bied en dat die IR nog geen leerder oor hul standpunt oor die publikasie geraadpleeg het nie.

Dit is nie in hierdie stadium duidelik wanneer die hof sy uitspraak bekend gaan maak nie.

You need to be Logged In to leave a comment.