Toekenning van uitmuntendheid vir Wellington-joernalis

Die bekende Wellington-joernalis, Engela Duvenage, is onlangs vereer met die Suid-Afrikaanse Vrugtebedryf se Izethelo-toekenning vir Uitstaande Joernalistiek. Dit is spesifiek aan haar toegeken vir haar skryfwerk oor landbouverwante navorsing, ook in


Die bekende Wellington-joernalis, Engela Duvenage, is onlangs vereer met die Suid-Afrikaanse Vrugtebedryf se Izethelo-toekenning vir Uitstaande Joernalistiek. Dit is spesifiek aan haar toegeken vir haar skryfwerk oor landbouverwante navorsing, ook in die vrugtebedryf.

Engela het gesê dat sy daarvan hou om bietjies-bietjies te weet oor ’n klomp onderwerpe, daarom dalk dat sy haarself bevind het in die veld van wetenskapsjoernalistiek – weens basiese nuuskierigheid.

“Elke skryfprojek wat ek aanpak dra nog ’n stukkie detail vir my by oor die wêreld – oor hoe ’n mens se liggaam werk, hoe kos op die tafel gesit word, of hoe om ons energiekwessies of gesondheidsprobleme op te los.

“Deur my skryfwerk probeer ek vir die publiek wetenskaplikes se bevindinge so verstaanbaar, interessant en duidelik moontlik oordra – hetsy as ’n profielartikel oor ’n navorser, ’n gesondheidsartikel vir ’n vrouetydskrif of as ’n persverklaring oor ’n navorsingsprojek wat vir die landboubedryf belangrik is. Ek werk egter nie uitsluitlik in die landbou- en wetenskapsveld nie, en skryf graag reisartikels en profiele oor gewone mense wat hul ding doen.”

Engela beskik oor ’n BA Hons-graad in Sielkunde en ’n MPhil in Joernastiek met wetenskapsjoernalistiek as spesialisveld.

Haar joernalistieke loopbaan het reeds by haar skoolkoerant op Oudtshoorn begin. Na universiteit het sy vir die Suid-Kaap Forum en Paarl Post gemeenskapskoerante gewerk – en danksy haar werk as sportjoernalis by die Paarl Post het sy haar man, die Wellington-prokureur, Louis Duvenage, ontmoet.

Na Engela se tydperk by gemeenskapskoerante het vier leersame jare in die kommunikasie-afdeling van die natuurbewaringsorganisasie CapeNature gevolg, waar sy eerstehands meer oor die natuurskoon en dinamika van die Wes-Kaapse omgewing kon leer. Vir die volgende agt jaar was sy die mediabeampte en wetenskapskrywer van die fakulteit natuurwetenskappe van die Universiteit Stellenbosch.

Vir die afgelope vier jaar doen sy vryskutskryfwerk. “Vryskutwerk gee my kans om ’n beroepslewe met dié van Mom’s Taxi te versoen.

“Dit het my ook kans gegee om my vlerke die afgelope paar jaar na die landbougebied te skuif, en meer skryfwerk oor landbounavorsing te doen. Ek pak deesdae gereelde skryfprojekte aan vir onder meer Hortgro Science en die Universiteit Stellenbosch se fakulteit agriwetenskappe. My werk het sedertdien in die meeste Suid-Afrikaanse landboutydskrifte verskyn, asook in Die Burger, die vrouetydskrifte Leef en Lig, in Baba & Kleuter, die Landbouweekblad, Wynboer, die SA Vrugtejoernaal en die Mail & Guardian.”

Engela het ook onlangs skryfprojekte voltooi vir die Academy of Science of South Africa, die Universiteit van Pretoria en die SKA SA teleskoopprojek en skryf weekliks vir die internasionale joernaalgroep Nature Springer.

Sy is lid van die Suid-Afrikaanse Landbouskrywers en die Suid-Afrikaanse Wetenskapsjoernalistevereniging (SASJA).

Haar werk is ook voorheen vereer in die Sanlam Gemeenskapsperskompetisie en deur die Profile Africa-toekennings.

Danksy twee beurse kon sy die Wêreldkongres vir Wetenskapsjoernaliste in onderskeidelik Quatar en Finland bywoon.

“Dis ’n voorreg om gereeld oor die werk van absolute kundiges te rapporteer – hetsy hortoloë, wingerdkundiges, naaldekokerkenners of TB-spesialiste. So besef ek daagliks hoeveel kundigheid daar in Suid-Afrika is wat nie noodwendig genoeg gevier word nie. Dis dan ook daarom dat ek ’n medestigter is van die Suid-Afrikaanse wetenskapswebwerf Scibraai (www.scibraai.co.za). Dit is ons Trots Suid-Afrikaanse poging om op Facebook, op die Internet en op Twitter vir die wêreld te vertel oor die sterre en hoogtepunte in die Suid-Afrikaanse wetenskap.

“My werk het my ’n nuwe waardering gegee vir die moeite wat ingaan om te sorg vir elke liewe mooie appel en peer in ons winkels! Waardeer hulle!”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.